Vyfde persoon vas oor vermiste Mooinooi-vroue

Joey en Anisha van Niekerk (Foto: Facebook)

Die polisie in Noordwes het Sondag bevestig ʼn vyfde persoon is in hegtenis geneem in verband met die verdwyning van Joey en Anisha van Niekerk van Mooinooi in Noordwes.

Ao. Mpeile Talane, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig ʼn 33-jarige persoon is Vrydag in hegtenis geneem. Hy sal Woensdag, 27 Desember, in die Brits-landdroshof verskyn.

Vier verdagtes het reeds in die hof verskyn in verband met die verdwyning van Joey (32) en Anisha (30) van Niekerk. Aaron Sithole (23), Koos Strydom (53), Alex Mudau (36) en ʼn vierde verdagte het vlugtig op aanklagte van moord, ontvoering, roof, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en dwarsboming van die gereg verskyn.

Die vierde verdagte se naam word weerhou omdat daar tans onsekerheid is of hy minderjarig is of nie. Die verdagte se regsverteenwoordiger het aangevoer dat sy kliënt minderjarig is, maar kon geen bewyse hiervan aan die hof lewer nie. Die saak is tot 5 Januarie 2018 uitgestel om onder meer die staat die geleentheid te gee om die verdagte se ouderdom vas te stel. Al vier verdagtes sal in polisieaanhouding bly tot hul volgende hofverskyning.

Maroela Media het vroeër berig die twee vroue is op 10 Desember omstreeks 07:30 vir die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe woon. Joey se pa is onlangs oorlede. Hulle was op pad na Pretoria om sy roudiens by te woon, maar is sedertdien nie weer gesien nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is in die Magaliesburg-omgewing gevind. Daar was egter geen teken van die vroue nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Sam ·

Kan nie indink watse swaar dag dit is vir die twee dames se familie en vriende nie. My gedagtes en gebede is met julle.

Liefde

Petro ·

Ek stem saam….wat ookal aan die gang is met die ondersoek… hier is 2 families wat seer het en baie swaar moes gekry het vandag.
Ons dink aan julle en bid vir uitkoms.
Baie sterkte en liefde vir julle xx

Elsie ·

5 verdagtes in hegtenis maar nogsteeds been inligting oor die dames????????

Hans ·

Hierdie is nie, een van vele TV Showmax rillers nie. Daar is bekwame mense in beheer van die ondersoek.

Ek stem ·

Ek stem, so vreemd soos wat dit klink, is hier n goeie speurspan aan diens. Die manne gaan mos nou eers maak of hul niks weet, met tyd sal die waarheid uitkom. Hoop hul word regdeur vasgevat dat hul dade nie ongestraf bly en so ook goeie polisiering tot niet gaan nie.

Wilmar ·

Elsie ek is seker die ondersoek is nog op n baie sensitiewe stadium, daarom word inligting op die oomblik van die publiek weerhou. Verdagtes word nou die 1 na die ander vasgetrek. Ek is seker die SAPS sal binnekort n deurbraak maak en antwoorde kan verskaf aan almal wat wonder wat van die twee persone geword het.

LHS ·

Myns insiens is dat daar niks sensitiefs aan die saak is nie, kry die gemors aan die praat dat hulle die misdaadtoneel gaan uitwys.

Wonder ·

Ons regstelsel beskerm die misdadiger.
Daar is maniere om n misdadiger te laat praat.
As die Sap so uitstekend is howkom nog geen beskuldigde nie.

Shaun ·

Ja daar is maniere . Maar die wettige maniere vat tyd . Die ander maniere kan maak dat beskuldiges vrygespreek word . Net ter inligting . Daar is nou 5 beskuldigdes .

LMF ·

Kleindup vra jy nou iets wat my van begin af getref het. Ek neem aan hul is getroud. Maar van die os op die has. Dit bly hartseer en ek hoop daar sal gou antwoorde kom

Daan ·

Ek dink nie Kleindup bly onder ‘n klip nie, meer as ‘n week sien mens die foto’s van die 2 dames by die berigte, so later lees mens nie meer die berigte nie. Maroela, julle maak die Webblad vervelig om ou berigte elke dag op te sit, vervang dit met nuwe berigte, daar is baie nuus gebeure, nie aanhou om berigte langer as 12 ure te vertoon nie

Ekke ·

Nee Kleindup dis nie susters nie, die twee was getroud , daar om dieselfde vanne.

Peet J ·

Nou wie het nou wie se van gekry Joeye of Anisha , hoop hulle is nog ongedeerd maar die soektog gaan blykbaar niks oplewer nie , hierdie is ‘n snaakse besigheid aldus my mening.

Rikku ·

Vader ons kom biddend na U toe en vra nederig dat U Joey en Anisha veilig terug besorg aan hulle familie. Ons vra dit in Jesus Naam, Amen

Rita ·

Vader ons kniel in aanbiding voor U , en vra nederig om Joey en Anisha veilig terug te besorg aan hulle familie en vriende. Ons vra dit in Jesus Naam, Amen

Annette ·

Dis darem hartseer, om te dink dis n feestyd waar Familie saam hoort en gelukkig te wees
Nou die hartseer die kommer … so onnodig Mag God die twee dames bewaar vir hulle familie en hulle veilig terug bring. Jesus tree hier in asb Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.