Vyfde Sibanye-mynwerker se lyk gekry

Argieffoto

Die vyfde vermiste mynwerker by Sibanye-Stillwater se Kloof Ikamva-skag naby Westonaria suidwes van Johannesburg is Donderdag in die vroeë oggendure opgespoor en na die oppervlak gebring.

Sibanye het in ʼn mediaverklaring bevestig al vyf werkers wat Maandag in dié verlate werksgebied ingegaan het voor hulle vermis geraak het, is nou opgespoor.

“Ongelukkig het al vyf kollegas hul lewe in hierdie tragiese voorval verloor,” het Thabisile Phuma, Sibanye se woordvoerder, gesê.

“Die bestuur wil almal bedank wat oor die afgelope drie dae betrokke was by die soek-en-reddingsprojek en onverpoos gewerk het om die werkers op te spoor.”

Sibanye se bestuur het sy meegevoel met die oorledenes se familie, vriende en kollegas betuig.

“ʼn Deeglike ondersoek deur die myn se bestuur, die departement van minerale hulpbronne en ander rolspelers sal gedoen word om die omstandighede vas te stel wat tot dié tragedie gelei het.”

Maroela Media het vroeër berig die vyf mynwerkers is Maandag in dié verlate werksgebied dood, vermoedelik weens onvoldoende ventilasie. Die liggame van die eerste drie mynwerkers is reeds Maandag na die oppervlak gebring. Die vierde persoon is Dinsdag opgespoor.

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne, het intussen gesê die maatskappy moet aanspreeklik gehou word vir die dood van die mynwerkers. Die National Union of Mineworkers (NUM) het reeds Maandag gesê die vakbond is onthuts en bekommerd oor die koers waarteen mynongelukke by Sibanye-Stillwater-aanlegte plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

leser ·

hoe kan die myn aanspreeklik gehou word, die mynwerkers het in ‘n verlate werksgebied ingegaan
die myn het sekerlik waarskuwings opgestel wataandui dat ingang tot die gebied verbode is

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.