Vyfde verdagte vas ná grusame moord op ma

Argieffoto: SAPD/Facebook

’n Vyfde verdagte is Maandag in hegtenis geneem in verband met die moord op die 62-jarige Wanter Dlamini. Dié ma van Barberton in Mpumalanga se twee dogters tel onder die verdagtes wat reeds vasgetrek is vir haar moord in Januarie vanjaar.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, sê in ’n verklaring ’n 36-jarige man sal na verwagting vandag (Dinsdag) in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklagte van moord.

Volgens Hlathi het dit ook intussen aan die lig gekom dat een van die verdagtes en ʼn vriend van een van die dogters in November ’n versekeringspolis in Dlamini se naam uitgeneem het. Die polis sou dubbeld uitbetaal sou Dlamini ʼn onnatuurlike dood sterf. Hlathi sê ’n ondersoek dui daarop dat Dlamini se dood haarfyn beplan is.

Maroela Media het vroeër berig Dlamini se jongste dogter, Nonhlanhla Mthunywa (30), het glo op 6 Januarie saam met ʼn 41-jarige manlike vriend by haar ma ʼn besoek afgelê en haar na haar huis toe genooi vir ʼn kuier. Dlamini het onmiddellik ingestem en haar gereed gemaak vir dié beloofde kuier.

Volgens Hlathi het Mthunywa se manlike vriend saam met nóg twee ander manlike verdagtes Dlamini by Mthunywa se huis ingewag. Toe Dlamini by haar dogter se huis opdaag, is sy na bewering deur twee van die mans ontvoer, grusaam aangerand en verkrag, terwyl haar dogter (Mthunywa) haar vasgehou het.

Dlamini is daarna vermoedelik verwurg. Haar liggaam is in ʼn kombers toegedraai en by die buitetoilet versteek.

Mthunywa se 39-jarige suster, Penolope Mampune Mthunywa, wat glo ook betrokke was by beplanning van die moord op hul ma, het later die dag gereël om van hul ma se liggaam ontslae te raak. Dlamini se liggaam is in ʼn nabygeleë veld gestort waar die owerhede haar later gevind het.

Die manlike vriende is sedertdien as Nombuso Philadelphia Ndwandwa (41) en Stanley Mashakeng geïdentifiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Santie ·

Vreeslik! Om te dink jou kinders vermoor jou vir geld, hoop hulle sit lank.

Koos ·

Kan dit moontlik wees dat die storie waar is.Ek kan dit net nie glo dat iemand kan so wreed wees nie.

Belinda ·

So ongelooflik hartseer, hoe kan iemand haar Ma vashou terwyl sy verkrag word, regtig ‘n goeie vrou het duiwels kinders gekry.

E ·

Werklik skokkend. Moes hulle haar verkrag en martel? Sadiste. Ek wonder of so ‘n polis nog sou uitbetaal aan kinders/eggenote wat NIE betrokke was nie. Dit sou regtig ironies wees. Maar dit is amper ondenkbaar.

Oujongvrou ·

Eks naar van onsteltenis. Walglike dogters, om jou ma so te verneder. En sy was voor haar dood seker deeglik bewus daarvan dat haar kinders dit aan haar doen. Ek glo nie die duiwel wil sulkes eers in die hel hê nie. Hulle gaan vir hom n bedreiging wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.