Vyfde verdagte vas ná KFC-‘aanranding’

‘n Skermskoot uit die video.

ʼn Vyfde verdagte is in hegtenis geneem in verband met die beweerde aanranding van ʼn egpaar verlede week by ʼn KFC-restaurant in Pretoria.

Kapt. Kay Makhubela, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig die man en sy regsverteenwoordiger het hom Maandagoggend by ʼn polisiestasie oorgegee waar hy in hegtenis geneem is. Hy is tans in aanhouding en sal binnekort op aanklagte van aanranding en die rig van ʼn vuurwapen in die hof verskyn.

Maroela Media het vroeër berig ʼn video van die beweerde aanranding, wat by ʼn KFC-restaurant in Montana plaasgevind het, het wyd opslae gemaak nadat dit soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het. Die beeldmateriaal toon hoe ʼn groep van ses mans na bewering vir Jacob Sono en sy vrou aanval nadat die egpaar die mans gevra het om vorentoe te beweeg in die deurrybaan by die KFC-restaurant.

Vier mans wat deur die polisie as M Harding (23), O Muller (20), RJ Nel (39) en DJ van Rooyen (21) geïdentifiseer is, is verlede week in verband met die voorval in hegtenis geneem. Hulle het reeds Vrydag in die Pretoria-landdroshof verskyn, waarna een van hulle op borgtog vrygelaat is. Die ander drie is borgtog geweier en sal die komende Vrydag weer om borgtog aansoek doen.

Die voorval is deur verskeie mense, politieke partye en groepe veroordeel en deur talle as ʼn rasse-aanval bestempel.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het Maandag in ʼn verklaring gesê mense wat ander aanrand, verdien om met die volle mag van die gereg kennis te maak. Volgens Buys bemoeilik hierdie gedrag die stryd om rassisme hok te slaan. “Afrikaners kan nie aan die een kant téén Malema se rassistiese dreigemente uitvaar, maar dan terselfdertyd hierdie tipe optrede duld nie. Rassisme moet in al sy vorme beveg word,” het hy gesê.

“Hierdie soort optrede deur klaarblyklik ekstremistiese enkelinge bied aan die ANC die stok om alle wit mense van rassisme skuldig te bevind met behulp van nuwe wetgewing, en hulle as gemeenskap te veroordeel en te vonnis as rassistiese misdadigers. As mense hulself skuldig maak aan sulke swak gedrag en aksies, maak dit die goeie werk wat die res tot stand probeer bring, ongedaan.

“Almal besef al teen hierdie tyd dat sekere rassistiese optrede aan die groot klok gehang word. Weerhou jouself eerder van sulke gedrag, en werk aan wedersydse erkenning en respek.”

Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond, het Maandag in reaksie op die voorval na Fikile Mbalula, minister van polisie, gekap en gesê Mbalula moet verantwoordelik optree ten opsigte van sy uitsprake oor minderheidsgroepe in die land. “Om vanuit die heup te skiet en minderheidsgroepe met ʼn teerkwas by te kom, is ongevraag,” het hy gesê.

“Die aanranding by KFC mag ʼn strafregtelike daad wees [en] moontlik rassistiese ondertone hê. So ʼn geval moet egter op eie meriete hanteer en as sodanig vervolg word. Te maklik word wit strafregtelike oortredings as rassisme afgemaak en nog makliker word dit veralgemeen. Die Afrikanerbond verwerp enige kwetsende en neerhalende opmerkings en gedrag, wit teenoor swart en ook omgekeerd. Waar mense hulself skuldig maak aan onaanvaarbare en onmenslike optrede, in sommige gevalle rassisties, moet dit verwerp en deur die regte kanale hanteer word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Michael ·

Ek het baie respek vir Mnr Flip Buys maar hoekom rasisme dit was vermoedelik aanranding wat die polisie eers moet ondersoek geen verskil tussen hierdie en die adjunk minister van hoër onderwys waar die tweede geval duidelik bewys kan word met beeldmateriaal nou word die kfc mans gebrandmerk as ekstrimiste.,rasiste waar is die konkrete bewyse hiervoor.??

Werner ·

Wil net weet wat het aanleiding gegee na hierdie voorval sal seker in hofsaak uitkom dan lieg die klaers net soos in die doodskis saam so dat jy dit op n myl kan sien iemand plus die media deur onbehoorlike beriggewing omdat joernaliste hulle nie verwittig van ware toedrag van sake jaag rasse spanning die hoogte in

anton ·

Ek sal graag wil weet of Solidariteit nou ook sommer regter wil speel sonder dat hulle al die feite het?
Hoekom wil hulle nou sommer dadelik beweer dit is rassisme? Gaan julle nou ook alles begin sien as rassisme wanneer wit en swart slaags raak???

Pieter Roux ·

Stem saam, vir wat moet Flip Buys nou so hard probeer om polities korrek te wees en rassisme skreeu sonder enige bewyse? Ek stem saam dat due gedrag van die mans nie reg “blyk” te wees nie, maar kry net eers al die feite en oorweeg dit nugter voor jy nou weer op die rassisme wa wil spring Flip!

V ·

Daai 5de verdagte is ‘n seun van 20 jaar wat nie eens ‘n vuurwapen besit nie, wat op die verkeerde plek op die verkeerde tyd was, daar was geen vuurwapens betrokke nie, hkm probeer julle nie uitvind hoe die hele ding begin het nie? Dit wat hulle gedoen het is verkeerd, en kan nie regverdig word nie, maar daar het goed gebeur wat daartoe gelei het, dis nie asof hulle uitgespring het en die mense begin aanrand het omdat hulle lus was vir moeilikheid nie. Die man het blykbaar ongeduldig geword omdat die motor voor hom te lank gevat het om sy kos te kry, hy het heeltyd op sy hooter gedruk, en naderhand uitgeklim, sy vrou het geskree hy moet terug in kar klim, hy het nie geluister, en begin gil en skree op die 2 kids voor in die motor, toe hy uit klim, toe klim die outjies uit en ‘n gestampery het ontstaan, toe spring die mans in die 3de motor uit en begin aan die vrou slaan, as hulle nie betrokke geraak het nie sou die ding nie so hand uitgeruk het nie

Pieta ·

“Seun” van 20 jaar LMGA……wanneer word die “seun” ‘n man?

Leahim ·

So gedink n paar mense gaan rooi gesig staan nie eers te praat van die siviele eise wat gaan volg oor die “assumptions ” van sekere organisasies en persone nie.

Drikus ·

Rassisties? Nee. Verkeerd om ander aan te rand? Ja. Vraag: Wie het dit begin? Om op so ‘n arrogante en ongeduldige wyse op iemand te skree kom neer op verbale aanranding. Vra maar vir onse adjunk-minister van onderwys. Kry eers die feite voordat rassisme altyd uitgeroep word.

Rudolf ·

Ek kan nie glo hoe goed orals op die nuus en op “Facebook” ens gesit Kan word sonder enige feite nie. Op die video Kan n mens skaars sien wat daar gebeur, maar die aantuigings is baie spesifiek. Blykbaar het die een man net gevra dat die kar voor hom bietjie vorentoe moet ry. Toe rand see mans hom wn sy vrou aan. Die aangerandes het niks verkeerd gedoen nie en sekerlik op n baie mooi manier gevra dat dat die karretjie net moet vorentoe trek. Hoekom klim jy uit jou kar uit by n “drive through” en gaan spreek mense aan ? Ek is seker hulle wil ook aan beweeg en net hulle kos vat en gaan. Nou hoor Ek ook vandag op die nuus dat die twee aangerandes vandag eers uit die hospitaal gekom het en hulle kry nog berading. Ek sien ook berigte wat se hulle was ” beaten into a pulp” . Ek wil graag vir almal n video stuur wat Ek vandag opgespoor het wat wys presies hoe lyk die slagoffers na die geveg en hoe hulle optree en Ek wil graag he dat die hele wereld dit ook moet sien en op sosiale media moet sit ens. Laat weet my asb waarheen Kan ek vir julle die materiaal stuur en bewys vir eens Julle staan ook by die manne wat tien teen een aan solidariteit behoort ook

NNDJ ·

Gee vir die man n adres waarheen hy die video kan stuur Maroela! Die HELE storie moet tog gehoor/gesien word?

V ·

Dankie vir jou Rudolf, hulle is nou aangekla vir pogjng tot moord, so ek dink jou video kan nogal help asseblief

koos ·

Ek is teleurgesteld in jou opmerking Flip en die rigting wat Solidariteit inneem. Sterker begrip vir volksgenote se frustrasie en ondersteuning ipv veroordeling van ons mense sou meer pas. Ek deel nie jou hoop dat rede en dialoog sal seevier in Afrika nie. Staan by ons mense en vermaan as nodig maar moet nie te gou oordeel as radikaal en jou verder van ons vervreem nie.

Observasie ·

Waar lê die politieke lyne deesdae as Jan Bosman se verklaring meer begrip vir realiteit in land en erns van volksgenote se posisie inhou as Flip Buys se vervreemende veroordeling? Nuwe dae met nuwe dinge….

Boerseun ·

@ Observasie – dankie vir jou nugter denke! Jy is so reg!

anton ·

So kom die waarheid stadig maar seker uit!!!
Hoe het iemand dit gestel?………n wors het altyd 2 kante/punte.

rassie ·

Na my mening is dit dus juis die verantwoordelikheid van leiers van groepe wat aan negatiewe steriotipering onderworpe is om bepaalde tipes van gedrag wat daartoe kan lei in die openbaar te veroordeel. Indien hulle swyg word dit beoordeel as kondonering. Dit gaan oor die beskerming van die groter groep en is ‘n beginseluitspraak teen bepaalde tipes van gedrag wat die groepsbelang kan benadeel. Dit is nie ‘n regterlike uitspraak oor die merietes van elke individuele saak nie.

Persoonlik waardeer ek dus die beginseluitsprake van leiers soos Mnr Buys in hierdie verband.

w ·

Mense wie ander aanval en beledig hoort ini tronk. Jonglatte kan baie arrogant wees. Ek skaam my vi sulke wit landsgenote. Ek is ook wit maar behandel ander met respek.

Dirk01 ·

Dit wil voorkom of dit n probleem onder blanke jong mans is om gou vuiste te laat waai, dit is die hoeveelste selfde tipe insident .Die aanranding van jong mans op die man van paartjies het ek al vroeer baie waar geneem asook mnr muscles op bejaarde manlike drywers , so regte lafaards wat sagte teikens voor gaan maar geen vol gelaaide taxi sal aftrek nie

Boerseun ·

Flip Buys veg nou na binne! Ons is nie die vyand nie! Moenie die manne so vinnig verguis nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.