Vyfde verdagte vas na moord

Rodrick Erasmus

ʼn Vyfde verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord op Rodrick Erasmus.

Die 23-jarige verdagte het Vrydag in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn vir die besit van dwelms toe hy in hegtenis geneem is in verband met die moord op Erasmus, het kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, gesê.

Erasmus (49) het as ʼn veiligheidswag vir Nitrous Security gewerk toe hy op 27 Desember in Port Elizabeth se Groenbossies-gebied doodgeskiet is nadat hy op ʼn sakerooftog gereageer het.

Volgens Naidu is ʼn winkel omstreeks 20:00 die betrokke aand beroof. ʼn Groep gewapende rowers het die winkel binnegegaan en op kontant en goedere aangedring. Die alarm is geaktiveer en Nitrous Security het onmiddellik op die voorval gereageer.

Erasmus het op die rowers losgebrand en een van hulle gewond voordat hy doodgeskiet is. Die verdagtes het hierna met klante se besittings, kontant, sigarette en Erasmus se dienspistool op die vlug geslaan. Hulle het ʼn klant se Nissan NP200-bakkie gesteel en in die bakkie en hul eie motor, ʼn rooi Ford XR3, van die toneel weggejaag.

Volgens Naidu is die verdagtes se motor en die bakkie sowat 3 km van die toneel gevind. Van die geld en gesteelde goedere is ook naby die voertuie gevind. Daar is vasgestel dat die Ford vroeër in Desember in Kwadwesi gesteel is.

Die eerste twee verdagtes is op 2 Januarie in hegtenis geneem. Een van hulle, ʼn 33-jarige man met ʼn wond aan sy maag, is by ʼn huis in Kwazakele in hegtenis geneem. Volgens Naidu het verdere ondersoek polisiebeamptes na nog ʼn huis gelei waar ʼn 38-jarige man in hegtenis geneem is. Daar is op ʼn 9 mm-pistool en ʼn Mazda-bakkie beslag gelê.

Nog twee verdagtes is op 6 Januarie in verband met die moord op Erasmus in hegtenis geneem. Volgens Naidu is beamptes na ʼn huis in Kwadwesi nadat inligting ontvang en opgevolg is. Vyf mans is in die huis aangetref. Daar is op ʼn 9 mm-pistool, ʼn haelgeweer en ʼn speelgoedwapen beslag gelê. Twee van die vyf verdagtes, 20 en 24 jaar oud, is verbind aan die moord op Erasmus.

Die verdagtes staan almal tereg op aanklagte van moord, kaping en sakeroof. Van die verdagtes staan ook tereg op aanklagte van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

anton ·

Dit is net n wen wen situasie vir die misdadiger/krimmineel in die land. Meeste van die tyd kom hulle weg met misdaad en indien hulle miskien gevang word, word hulle beloon vir slegs n kort rukkie in die tronk waar die beslasting betalers moet omsien na hulle lekker lewe daar.

Maljan ·

Die wet is absoluut net van toepassing op blankes. Kyk hoe kom die eff leier elke weg met verbale moord en haatspraak.

LH ·

Jy het darem EEN gekry Meneer Erasmus! Mag jy in vrede rus . . .
baie sterkte aan sy geliefdes

Lourens ·

Gaan eerder na n vulstasie waar die autoteller binne die winkel is. Dis die veiligste.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.