Vyfde verdagte vas oor DA-raadslid se moord

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Vyfde persoon het Donderdag in die Daniëlskuil-landdroshof in die Noord-Kaap verskyn in verband met die moord op DA-raadslid Johannes Baatjies (49) en sy sakevennoot, Shupping Nose.

“Tsame Frak Baxane (31) is Woensdag in Daniëlskuil in hegtenis geneem,” het kapt. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, gesê. “Baxane saak is tot 17 Oktober uitgestel wanneer hy na verwagting saam met vier ander verdagtes sal verskyn.”
Maroela Media het vroeër berig Baatjies is op 17 Augustus dood aangetref op die pad tussen Daniëlskuil en Postmasburg. Hy is twee keer in die kop en een keer in die bors geskiet. Nose is in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal gehaas nadat hy ook geskiet is. Hy het later aan sy wonde beswyk.

Zonisele Magawu (29), ʼn ANC-wykskandidaat in die afgelope munisipale verkiesing, is reeds in Augustus in verband met die moorde in hegtenis geneem. Charles Thompson Mpondomisa (39), Matthews Legodu (49) en Richard Hasana (33) is in September in hegtenis geneem.

“Ons distansieer onsself as die Valke van mediaberigte wat impliseer dat die ANC in Upington Johannes Baatjies se moord beplan het,” het Nkwalase Donderdag gesê. “Ons ondersoekbeampte het slegs die verklarings van die beskuldigdes aan die hof voorgehou. Ons ondersoek in die betrokke voorval het nog net tot die inhegtenisneming van vyf persone gelei, maar ons kan nie in hierdie stadium die moontlikheid van verdere inhegtenisnemings uitsluit nie.

Lees alle vorige berigte oor Johannes Baatjies op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.