Vyfjarige is jongste in Afrika wat meganiese hart kry

Mnotho Mndebele, sy ma en Ina Kok en Bulelwa Ntilashe, die mediese personeel van die Netcare Sunninghill-hospitaal (Foto: Verskaf)

ʼn Vyfjarige seuntjie van Newcastle in KwaZulu-Natal sterk goed aan nadat hy ʼn paar maande gelede die jongste mens in Afrika geword het om ʼn meganiese hart te ontvang.

Mnotho Mndebele, die ontvanger van die meganiese hart, was volgens ʼn verklaring van die Maboneng-hartinstituut vir sowat vier maande voor die operasie in die hoësorgeenheid van die Netcare Sunninghill-hospitaal en het maar net 17 kg geweeg toe dié baanbreker-operasie gedoen kon word wat gaan verseker dat sy erg beskadigde hart aanhou funksioneer.

Volgens dr. Viljee Jonker, die hartchirurg wat die operasie op Mndebele gedoen het, het hy die sogenaamde HeartWave- ventrikulêre hulpstelsel (HVAD) ontvang. Dié toestel is ʼn pomp wat ontwerp is om ʼn pasiënt se verswakte hart te help om bloed deur die hele liggaam te pomp. Die toestel, wat so groot soos ʼn gholfbal is, herstel bloedtoevoer wanneer die ontvanger se linkerventrikel nog reg funksioneer. Hy word dan met ʼn pypie deur die maag herlei na ʼn batterypak wat die pasiënt aan sy lyf dra.

Jonker sê hy is baie tevrede met Mndebele se vordering ná die operasie.

“Die multidissiplinêre span wat by sy behandeling betrokke was, is absoluut tevrede met sy vordering, veral omdat hy maande voor die operasie baie siek was. Hy het nou ʼn nuwe kans om te leef en kan uitsien daarna om saam met sy familie huis toe te gaan,” sê hy.

Volgens Jonker sal Mndebele tot groot mate weer “die lewe van ʼn normale vyfjarige seuntjie” kan hê wanneer hy eers weer tuis is.

Mnotho Mndebele en sy ma, Mbali Mndebele (Foto: Verskaf)

“Hy sal skool toe kan gaan en alles kan doen wat ander jong seuntjies doen. Hy sal egter vir die res van sy lewe ʼn klein sakkie om sy middel of op sy rug moet dra wat die batterye vir die ‘meganiese hart’ bevat, of tot hy ʼn hartoorplanting kry. Die batterye sal elke agt uur herlaai moet word.”

Mndebele het op ʼn jong ouderdom ʼn hartsiekte opgedoen wat veroorsaak dat die een ventrikel in sy hart vergroot en nie meer voldoende bloed pomp of bloedtoever ondersteun nie. Volgens Jonker kan die oorsaak van dié toestand, bekend as kardiomiopatie, dikwels nie bepaal word nie.

Jonker sê die HeartWave- ventrikulêre hulpstelsel (HVAD) stel ʼn hartoorplanting met baie jare uit, wat verseker dat Mndebele vir tyd en wyl normaal kan leef tot hy ʼn gepaste hartskenker kry.

Die toestel sal verseker dat hy normaal groei tot die dag wanneer hy vir ʼn hartoorplanting kan gaan.

“Terwyl hy vir ʼn hartskenker wag, kan hy ʼn normale lewe lei en sy kinderlewe geniet. Dit verbeter sy lewensgehalte aansienlik, want as hy nié die operasie sou kry nie, sou hy net aanhou verswak en bedlêend gewees het tot hy ʼn hartoorplanting kon kry.”

Jonker sê dié meganiese hartoorplanting word wêreldwyd al meer algemeen om hartpasiënte die kans te gee om normaal te leef tot hulle eendag ʼn hartskenker kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Liza ·

Sterkte kleine seuntjie, hou moed hoor jy lyk sommer pragtig…….sal vir jou bid…….

Liza ·

Sterkte seun……..hoop jy word vinnig gehelp en gou gesond word….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.