Vyfjarige maand ná broer óók deur hond gebyt

David Scott (5) in die hospitaal. Foto: Verskaf

David Scott (5) in die hospitaal. Foto: Verskaf

ʼn Kleuter van eMalahleni (Witbank) in Mpumalanga is in die Life Cosmos-hospitaal opgeneem nadat hy deur ʼn hond gebyt is slegs ʼn maand nadat ʼn hond sy boetie op dieselfde perseel ook beetgekry het.

Lizl Scott, die ma van die vyfjarige David Scott, het Vrydag aan Maroela Media gesê haar twee seuns bly tans by haar eksman op ʼn kleinhoewe buite Witbank. ʼn Hond wat op die perseel was, het David beetgekry en hom erg gebyt. David se kopvel is oopgeskeur, ʼn stuk van sy oor is losgeskeur en hy het bytmerke aan sy wang en arm.

“David se pa het bulterriërs wat hy op die kleinhoewe aanhou, maar hy beweer dit was ʼn rondloperhond wat David gebyt het en nie een van sy honde nie. Ek weet nie wat om te glo nie,” het Lizl gesê. “Net ʼn maand gelede is David se boetie wat ses jaar oud is, ook op sy boud deur ʼn hond op die kleinhoewe gebyt. Hy moes steke aan sy boud kry. Dit is net baie toevallig dat albei die seuns binne ʼn maand deur honde gebyt is.”

Volgens Lizl is David nie lid van ʼn mediese fonds nie en oorweeg dokters dit dus om hom te ontslaan. Hy moet dan net elke dag na die hospitaal gebring word sodat sy wonde skoongemaak kan word. “Ek weet nie of dit nou moontlik sal wees nie, want hy het baie erg seergekry. Ons kyk vir eers hoe dit gaan.”

Sy het gesê dokters het reeds bevestig dat David plastiese chirurgie sal moet ondergaan om die skade te herstel.

“My seuntjie is so sterk, jy sal dit nie kan glo nie. Dit is net ongelooflik hoe dapper hy is. Ek dank die Here, want dit is ʼn wonderwerk dat hy hierdie traumatiese ervaring so goed hanteer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.