Vyfjarige ʼn held danksy noodhulples

Argieffoto (Foto: ER24)

ʼn Vyfjarige seun van Forest Hill in Durban was ʼn held tydens ʼn noodgeval danksy ʼn noodhulpdemonstrasie wat deur ER24 by sy skool aangebied is.

Devon Fisher, ʼn paramedikus van ER24 se Hillcrest-tak, verduidelik paramedici van ER24 het verlede maand ʼn laerskool besoek waar die seun skoolgaan. “ER24-paramedici Michelle Cook, Tessa Bhengu, Osbourne Shangase, Angela Nzama, Mark Perks, Nico Bosman en twee trauma- en hoësorgverpleegstudente het die leerders gewys wat hulle op ʼn daaglikse basis doen en het hulle gehelp om die 084 124-nommer te memoriseer.”

Nooit sou hulle kon raai dat die seun ʼn paar dae later dié nommer tydens ʼn noodgeval sou onthou om sy ouers te help om ʼn ambulans te ontbied nie.

“Ons het ʼn oproep in ons kontaksentrum ontvang oor ʼn vrou wat siek was. Toe ek en my kollega, Richard Bowker, by die toneel aankom, het ons dadelik die ouma bygestaan. Die seun se ma het ons eers daarna vertel wat gebeur het,” het Devon bygevoeg.

“Sy het gesê sy en haar man was só paniekerig dat hulle glad nie aan ʼn nommer kon dink om te bel nie. Die seuntjie het toe gesê hy ken ʼn nommer wat hulle moet bel en het die nommer herhaal. Die ouers het weer vir die nommer gevra en toe het hy gehardloop en die ER24-waterbottel gaan haal wat hulle dié dag ontvang het waarop die 084 124-nommer duidelik aangedui is.”

Die seuntjie was in die tuin toe paramedici die ouma na ʼn hospitaal toe geneem het, en hy kon haar groet voor hulle in die ambulans weggery het.

“Almal was baie trots op hom. Toe ons hoor wat gebeur het, het ek hoendervleis gekry. Dit is ʼn wonderlike storie!” sê Devon.

ER24 se paramedici probeer, so ver as wat dit vir hulle moontlik is, om skole landswyd te besoek om bewusmaking te skep oor nooddienste. “Wanneer ons dié demonstrasies doen, dan weet mens nooit wat die kinders gaan onthou nie. Om te dink dat hy kalm gebly en die nommer onthou het, is ongelooflik!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Magda ·

Baie lekker om so eits te lees en wens die Ouma baie sterkte toe en hoop sy word sommer gou gesond.

Patch ·

Welgedaan seun. Ek het sommer dadelik die nommer op my selfoon gesit. Nou het ek dit ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.