Vyfjarige samel geld in vir studente-atlete

Die vyfjarige Michael Allcock. (Foto: Verskaf)

ʼn Vyfjarige seun het onderneem om altesaam 50 km te stap in ʼn poging om geld in te samel vir die Universiteit Stellenbosch (US) se #Train4Fees-veldtog.

Michael Allcock (5) het gehoor toe sy ma, Candice Egan, wat by die US se Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge werk, die veldtog bespreek het en het besluit dat hy ook wil “saamspeel”.

“Ek het gedink dis dalk ʼn goeie manier om van sy oortollige energie ontslae te raak, en alles vir ʼn goeie doel,” sê Egan.

Die veldtog, wat op 1 Junie deur Maties Sport en die Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge van stapel gestuur is, beoog om studente-atlete te help wat finansiële steun verloor het weens die Covid-19-pandemie.

Die #Train4Fees-veldtog het tot dusver R837 512 ingesamel, terwyl Michael reeds 75% van sy teiken van R5 000 bereik het.

Volgens Michael se ma het sy ouderdom ʼn rol gespeel in die besluit om teikens van 50 km en R5 000 te stel.

Tydens sy daaglikse stappies in die buurt, dra hy ʼn fiksheidsnasporingtoestel, aangesien hy daarvan hou om verskillende roetes te kies.

“Só weet ons hoe ver hy gestap het – gewoonlik tussen 1,5 en 2,5 km per uitstappie,” sê Egan.

Hoewel Michael nie die #Train4Fees-konsep heeltemal verstaan nie, weet hy dat hy die “groot kinders sal help om skool toe te gaan”.

Egan wil haar kinders leer om mededeelsaam te wees en empatie te hê vir diegene wat minder bevoorreg is. Sy hoop dat hulle eendag besef dat enigiemand ʼn verskil kan maak deur net die bietjie waartoe hulle in staat is, te doen.

Die veldtog se einddatum is tot 31 Augustus verleng met die oog daarop om ʼn nuwe fondsinsamelingsteiken van R2 miljoen te bereik.

“Ons het tans meer as 300 studente-atlete wat om finansiële hulp aansoek gedoen het, en ons wil hulle almal graag help,” sê fondswerwingsbestuurder Hans Scriba.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.