Vyfjarige sterf: Onskuldig aan verkragting, skuldig aan moord

Anovuyo Ndamase (Foto: ANA)

Anovuyo Ndamase (Foto: ANA)

Die ma van die vyfjarige Anovuyo Ndamase het haar kop in ongeloof geskud toe die Wes-Kaapse hooggeregshof Bongani Dlamini vrygespreek het op aanklag van verkragting en ontvoering.

Regter Ashley Binns-Ward het die 34-jarige Dlamini skuldig bevind op aanklag van moord en hom as ʼn “swak en onoortuigende getuie” beskryf, maar bygevoeg hy kan hom nie skuldig bevind op aanklag van ontvoering nie, aangesien “niemand ʼn idee het hoe die kind in die beskuldigde se huis gekom het nie”.

Op die aanklag van verkragting het Binns-Ward gesê daar is “geen direkte bewyse dat die beskuldigde die kind verkrag het nie”, maar die feit dat die beskuldigde se semen op ʼn duvet en ʼn kussingsloop gevind is wat met die kind se bloed bevlek is, “gee definitief rede tot agterdog”.

Anovuyo het op Sondag, 1 Maart 2016, in Khayelitsha, Kaapstad verdwyn. Haar ma, Kholeka Ndamase, het besef sy speel nie meer buite nie, toe sy ná ʼn uurlange vergadering na buite gegaan het.

Die dogtertjie se skoene het buite gelê, maar daar was geen teken van Anovuyo nie.

Die gemeenskap het dadelik na haar begin soek en die saak is by die polisie aangemeld. Polisiebeamptes het later dieselfde aand ook by die soektog aangesluit. Die soektog het tot 5 Maart voortgeduur toe die kind se naakte liggaam in ʼn sak, saam met haar klere, agter ʼn man se huis, wat drie huise van die beskuldigde af woon, gevind is.

Kapt. Marius Joubert van die polisie se forensiese misdaadlaboratorium, het tydens die hofsaak getuig ʼn groot hamer is agter ʼn bed gevind wat die bloed van die oorledene op gehad het. Hy het ook getuig dat DNS van die beskuldigde en die oorledene op die hamer gevind is. Die kind se bloedspatsels was ook teen die beskuldigde se slaapkamermuur.

Die hamer is bevestig as die moordwapen en die oorsaak van dood was ʼn kopbesering met ʼn stomp voorwerp.

Dlamini het skuld ontken op al drie aanklagte en het ʼn pleitooreenkoms ingedien dat hy die Maandagoggend wakker geword het met die kind se liggaam in sy huis. Hy het gesê hy was “geskok, beangs en kon nie reguit dink nie” en hy wou nie die saak by die polisie aanmeld nie, aangesien hulle dalk sou dink hy het haar vermoor. Hy het gesê hy wou ook nie vir die gemeenskap vertel nie, aangesien hulle dalk reg in eie hande sou neem.

Regter Binns-Ward het Dlamini se weergawe verwerp. “Die idee dat iemand die kind na sy huis toe sou bring nadat hy gaan slaap het, haar in die stoorkamer vermoor, haar in sakke geplaas en dit na sy slaapkamer sou bring sonder om hom wakker te maak, is onwaarskynlik.”

Hy het gesê die bewyse dui daarop dat Dlamini, nadat hy die dogtertjie vermoor het, haar liggaam tussen die matras en die basis van die bed geplaas het in die stoorkamer, en dat hy later die liggaam in sakke geplaas het met die doel dat dit saam met die munisipale rommelverwydering weggeneem sou word.

Dlamini hou egter vol hy is onskuldig. Hy het, ter versagting van vonnisoplegging, gesê hy simpatiseer met die ouers, maar het niks te doen met die kind se moord nie.

Toe die staatsaanklaer, Alta Collopy, vir hom sê hy het ʼn “gulde geleentheid” om die familie om verskoning te vra, het hy gesê: “Ek het dit nie gedoen nie, selfs al het dit in my huis gebeur. God het die kind gevat.”

Die saak is uitgestel tot 24 Oktober om die staat die geleentheid te bied om slagoffers se impakverslae te versamel.

Lees alle vorige berigte oor Anovuyo Ndamase op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Irene ·

Onskuldig aan verkragting waar gaan die mens heen arm meisie kinders kry swaar

Jakes ·

Heel onkundig die regsberoep, maar volgens voorsittende regter blyk dit die 5jarige het dalk gegaan om verkrag te word…self gestap?
Sjoe…mens moet bang raak as dit regers se persepsie, kennis en uitsprake is!

Columbiana ·

Soms wonder ek of die regters wat op die bank sit nie dalk cyborgs is nie. Soms is hulle redenasies absurd om die minste te sê. Die man vermoor die kind en word skuldig bevind aan moord maar nie aan die kind se verkragting nie. So u nie so edele hoe dink jy is die kind verkrag?

jaco ·

as sy slagoffer wit was kon ek dit nog verstaan dat hy onskuldig bevind word aan verkragting en ontvoering, maar sy was net so swart soos hy. ons het voorwaar n weird regstelsel.

Columbiana ·

Magtig Jaco kan jy asb net vir een dag van daai raskarretjie afklim. Regtig elke artikel is jou kommentaar dieselfde. Ditbsneeu dis seker omdat die sneeu wit is. Dit reen nie in Gauteng dis seker omdat mense wit is. ASB KRY TOG NET ENIGE ANDER KOMMENTAAR ASB

Theresa ·

Skokkend. En ek verstaan glad nie die regter se bevinding nie. Enige regspersone wat onder skuilnaam kan verduidelik, asb? Semen van die man en bloed van die kind – dis mos eenvoudig? Het die nadoodse ondersoek bewys sy is wel verkrag? Kindertjies is weerloos in hierdie baie siek wêreld.

EK ·

Dit is siek dat hy onskuldig bevind kon word aan daai verskriklike daad. Wit of swart maak nie saak nie. Ons regstelsel sal plan moet maak met die geweld in ons land. Daai arme ma.

E.K. ·

Suid Afrika is een van die gevaarlikste lande in die wereld vir vroue en kinders…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.