Vyfjarige verdrink in Krugersdorp

Argieffoto

ʼn Vyfjarige seun het Saterdag in ʼn swembad in ʼn residensiële kompleks in Krugersdorp verdrink.

Nick Dollman, woordvoerder van Netcare 911, het gesê paramedici is omstreeks 17:20 na die toneel ontbied. “Die kind is in die swembad aangetref. Daar is reeds met KPR begin toe paramedici na die toneel gehaas het,” het hy gesê. Alle pogings om hom by te bring, was tevergeefs. Die kind is op die toneel dood verklaar.

Die omstandighede rondom die kind se verdrinking word ondersoek.

Dollman het bygevoeg slagoffers moet so gou as moontlik uit die water gehaal word. “Paramedici moet dadelik ontbied word en daar moet met KPR begin word nog voor die paramedici by die toneel opdaag. Nooddienste sal telefonies raad kan gee hoe om met KPR te begin. Breinskade kan binne minute plaasvind. Dit is baie belangrik om dadelik met KPR te begin, en nie net vir die paramedici te wag nie.”

Hy het gesê noodhulp en KPR is vaardighede wat maklik aangeleer kan word en wat ʼn lewe kan red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

André ·

Ai, so baie kindersterftes die afgelope tyd as gevolg van swembaddens.

Noodhulpkursusse vir almal ·

Almal moet noodhulpkursusse doen. Daar is webwerwe met gratis kursusse daarin soos futurelearn.com en edx.org Niemand het n verskoning om dit nie te doen nie.

Boet Fasie ·

Was die swembad beskerm met ‘ n veiligheids heining en self toemaak hek – indien nie is iemand siviel aanspreeklik, al hoe meer kinders verdrink in swembaddens wat nie voldoen aan die Nasionale Bouregulasies se bepalings nie.

Pop ·

Boet Fasie, niemand steur hulle aan bouregulasies nie. Niemand steur hulle aan enigiets in die wonderlike SA nie.

Moeksie ·

My kinders het ook in n kompleks gebly. Ek het gesien hoe gaan groterige kinders by die swembad in en laat klein boet en sus saam in. My hare het gerys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.