Vyfpuntplan vir verpleegkrisis aangekondig

(Foto: pixabay)

Die Solidariteit Beroepsgilde vir Gesondheidspraktisyns het gesê indien daar nie dringend ingegryp word en oplossings gevind word vir die enorme tekort aan verpleegpersoneel nie, Suid-Afrika ʼn moontlike nasionale gesondheidkrisis in die gesig staar.

“Een van die grootste uitdagings in die verpleegbedryf in Suid-Afrika is die tekort aan verpleegpersoneel. Daar is alreeds in 2010 ʼn tekort van meer as 44 700 verpleegpersoneel aangeteken,” het Hennie Bierman, hoof van Solidariteit Beroepsgildes, gesê.

Dié vakbond het Donderdag by ʼn mediakonferensie in Centurion bekendgemaak dat daar na raming sowat 38 000 poste is wat nie in 2017 in die beroep gevul is nie. Die syfers is saamgestel uit statistiek van die Suid-Afrikaanse Raad vir Verpleging (SARV) en navorsing van die Solidariteit Navorsingsinstituut.

“Die departement van gesondheid ondervind tans ernstige finansiële probleme. Dit lei daartoe dat slegs 50% van poste by openbare hospitale en klinieke gevul word,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Buiten poste wat nie gevul word nie, is die werksmag besig om vinnig te verouder.

“Volgens die SAVR se data is ongeveer 50% van alle geregistreerde verpleegkundiges bo die ouderdom van 50 jaar en slegs 5% is jonger as 30.

“Daar het sedert 2013 jaarliks ongeveer 8 500 minder verpleegkundiges tot die werksmag toegetree. In 2016 was die afgestudeerde studente 21 571 teenoor 13 036 in 2017. Dit is ʼn afname van meer as 8 000 nuwe verpleegkundiges wat die werksmag kan betree in net een jaar.”

Hermann het bygevoeg dat verpleegopleiding in Suid-Afrika tot ʼn groot mate tot stilstand gekom het.

“Geen private instansie het die afgelope drie jaar goedkeuring vir opleiding ontvang nie. Verder het die SARV heelwat van die kursusse wat by bestaande private instellings aangebied is, reeds in 2015 opgeskort.

“Daar word ook gesloer met die akkreditasie van alle verpleegkursusse en die goedkeuring van private verpleeginstellings wat al sedert 2014 aan die gang is.”

Hy meen verpleegpersoneel is die rugsteun van goeie gesondheidsorg, daarom skets die kritieke tekort aan goeie verpleegpersoneel ʼn somber prentjie vir Suid-Afrika se gesondheidsorg.

Buiten die tekorte aan personeel, gebrekkige studente-uitsette en poste wat nie gevul word nie, dra swak salarisse en swak werksomstandighede ook by tot die ernstige krisis in dié beroep.

Dit het Solidariteit genoop om ʼn vyfpuntplan aan te kondig om die krisis in verpleging te bekamp.

Die plan behels die volgende:

  1. ʼn Spesiale opleidingsfonds om verpleegsters op te lei. Die groter gesondheidsberoep en die publiek word gevra om tot die fonds by te dra.
  2. Akademia het reeds om akkreditasie vir ʼn graad in verpleging aansoek gedoen. Daar word beplan om honderde wêreldklas‑verpleegkundiges op te lei.
  3. Solidariteit gaan ʼn waghond in die werkplek wees om seker te maak dat werksomstandighede vir verpleegkundiges goed en bevorderlik vir goeie diens is.
  4. Solidariteit se maatskappy S-leer sal omvattende voortgesette leerprogramme vir verpleegpersoneel aanbied sodat seker gemaak word dat hulle wêreldklas bly.
  5. Solidariteit het reeds sy regspan opdrag gegee om moontlike litigasie te ondersoek oor die nie-akkreditasie van verpleegkursusse.

“Ons besef die staat is besig om toenemend te verswak en daarom wil ons met die beroepgildes verantwoordelikheid vir die beroepe oorneem. Die gildes sal verseker dat jongmense tot die beroep toetree en geplaas word.

“So skep ons ʼn burgerlike netwerk vir gesondheidsberoepe wat mense in die beroep plaas, ondersteun en mentor,” het Hermann gesê.

“Verpleegkunde as beroep in Suid-Afrika is in gevaar, maar die impak daarvan op goeie gesondheidsorg vir miljoene Suid-Afrikaners is byna ondenkbaar,” het Bierman saamgevat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Deon ·

Die val in die openbare gesondheidsektor is by die omdraaipunt verby. Die “miljoene” Suid Afrikaners wat vir die ANC gestem het moet hul regering druk vir beter gesondheidsorg. Solidariteit moet eerder planne maak om arm blankes te help om uit die elende van openbare gesondheidsorg te ontsnap. So stil-stil, uit die openbare oog.

Alida X ·

Deon ek wil saamstem dat dinge meskien by omdraaipunt verby is.
Kom ons wees eerder positief en sien dit as ‘n geleentheid vir ‘n arm blanke om opgelei te word in verpleging en daardeur selfonderhoudend te wees.
Daar is meer werksgeleenthede as net ‘n aanstelling by ‘n hospitaal. Tuisverpleging is in aanvraag en baie geneeshere het ‘n verpleegkundige of lankal se stafverpleegster in diens wat help met klein prosedures in die spreekkamer.

Bekommerd ·

Alida, wie dink jy gaan betaal vir daai arm blanke se opleiding by Akademia? Akaddmia sal dalk hopelik ‘n paar beurse aan arm blanke kinders goedkeur, maar hulle is ook toegespits op winste. Als in die land is besig om inmekaar te tuimel wat publieke dienste aanbetref. Ek ys wanneer daai 50+’sers begin aftree. Dankie aan Solidariteit wat probeer omsien na die krisis.

zis ·

Solidariteit dankie vir jul 5 punt plan,maar hoe gaan julle dit reg kry? Hospitale moet 100% in werking wees,toerusting in werkende orde ,genoegsame voorraad ens. hoekom moet publiek bydra tot opleidingsfonds? Hoe wil julle `n waghond skep by werkplekke. Ek as `n verpleegkundige stel nie belang meer in verpleging nie,want in die huidige omstandighede kan geen mens ordentlike verpleging doen nie,omdat jy moet saam met mense werk wat nie meer worry oor die pasiënte nie, maar wel net in die salaris aan die einde van die maand. Enige een kan nie net opeiding gaan neem nie,jy moet `n passie vir die werk hê,want jy moet alles in jou aan die pasiënt gee. Daar is nog gelukkig baie wat werklik omgee vir hulle werk,meeste Verpleegkundiges gaan na die buiteland vir beter werkomstandighede.

Philippus Janse van Rensburg ·

Ek word warm onder die kraag, die probleem lê juis by die gehalte personeel!
By die kliniek waar my dogter werk is die helfte van die personeel nie Maandag aan diens nie, is hulle langer besig om kos te maak soggens, gaan hulle “shopping” doen net wanneer hulle wil, en ‘n uur voor die tyd is hulle alweer op pad terug met staatsvervoer, terwyl sy bly, soms tot na ure, omdat sy met haar eie vervoer werk toe kom!

Moeg misbruik ·

Ek is self n verpleegster wat nie eers my raadsgeld betaal het nie. Ek wil nooit weer verpleeg nie. Verpleegsters word misbruik. En uitgeskel vir almal se voute. Hoe kan jy 4 mense aan diens he in n 28 bed hospitaal. Met n ongevalle en kraamsaal. Dan nie eers gepraat van jy moet 7 uur van dien af gaan na die hele nag op jou voete. 10 bedwasse en 30 of 40 vuil doeke. Motor ongeluk met ses pasiente baie erg beseer. Net om 6:45 n nood keiser te he en dan eers huistoe gaan as alles afgehandel is. Ek weet nie hoe ek soms by die huis gekom het nie.

Sanna ·

Wonder nog steeds hoekom verpleeg colleges toegemaak het oor die afgelope 20 jaar? Dalk praat ek onder korreksie, maar in die Weskaap kan mens verplegingskursusse slegs volg by die Universiteit van die Weskaap.

Johann Olivier ·

Jy is verkeerd. Privaat Hoëronderwysinstellings (soos Mediclinic, Netcare en Life Healthcare) asook die Univeristeit van Stellenbosch (her geakrediteer vanaf 201) en die Wes Kaapse Kollege van Verpleging bied ook verpleegopleiding aan. Opleing is tans beperk a g v die implementering van die nuwe nasionale kwalifikasie raamwerk belynde kurrikula, waar meeste privaat-instellings nog op akkreditasie wag voor mer die nuwe opleiding begin mag word.

marous ·

Geen verpleeg personeel wat enigsins hul sout werd is wil onderwerp word aan die totale verval waarin die gesondheid sorg van die land tans is nie . Kan net sowel miljoene voertuie bou en daar is geen pad om hulle te bestuur nie .

Oom Jaco ·

Die wat nou kla moes maar gestem het vir WARE selfbeskikking… Nou te laat… in die huidige SA het ons nie ń kans nie.

fred ·

geluk Solidariteit met die verslag en planne vorentoe..laat die korrupte ANC sien wat gedoen kan word met inisiatief ,bekwaamheid en goeie bestuur…

Bekommerd ·

Ag Oom Jaco, ons handjievol se stemme gaan nie selfbeskikking deurgevoer kry as die regering nie dit toelaat nie. Hou asb op om probleme voor die paar blanke kiesers se deur te lê dat dit ons blanke kiesers se skuld is dat die land in die gemors is. Kom eerder na vore met daadwerklike oplossings.

Antjie ·

Die grootste probleem is salarisse. Daar is honderde Suid Afrikaanse Geregistreerde Vepleegkundiges wat in Saudi Arabië en in die Emirate werk weens beter salarisse
Hoekom sal hulle terugkeer ? Dankie Solidariteit vir die ingryping, hoop dit kan werk. Ek weet ook dat Stafverpleegsters by Mediclinic wat die oorbrugging doen alle kostes self moet dra, boeke, vervoer, verblyf ens.

Vintcent ·

Staatshospitale kan nie die aantal pasiënte hanteer was soontoe stroom nie. Staat voel ‘n veer. Moet dus nie verwag dat enkele verpleegkundiges die massas pasiënte optimale sorg en aandag kan bied nie.

Privaathospitale, weer, wil net wins maak en stel minimum personeel aan. Die direkteure en bestuurshoofde lag al die pad bank-toe met die wins wat hul melk. Verpleegkundiges is oorwerk en moet daagliks beledigings aanhoor van pasiënte en hul “base”.

Maak die sommetjie…! SA is ‘n siek land. Psigies siek en sonder prioriteite.

Hans ·

Tragies. Die SAVR, en die Dept van Gesondheid moet onmiddelik onder administrasie geplaas word en bevoegde personeel aangestel word om akkreditasie van kursusse te bespoedig.

Lalie ·

Die verpleegster is nie meer verpleegstets nie. Hulle wil so min as moontlik doen en betaal word daarvoor, hulle doen die werk met die oog op om n dokter se vrou te word. Ga.

Sal buitelandse akkreditasie werk ·

Ek wil graag weet, sou dit help om akkreditasie in die buiteland te kry?

Ria van der Merwe ·

Dit sal nie help om akkreditasie in die buiteland te kry nie. Jy sal nie toelaat word om opleiding te verskaf aan studente as jy nie deur SAVR geakrediteer is nie.

Se ma net ·

Dankie Solidariteit vir die insig oor verpleging en die plan van aksie. Ek hoop dat met die belangstelling in die verplegingskorps, daar ook in die nabye toekoms gekyk kan word na die Ambulans dienste . Die personeel tekort , werksure, toerusting en salarisse. Daardie mense werk regtig hard en so min word gedoen vir hulle.

Connie ·

Waar is al die wit susters en verpleegsters? Hoekom word daar nie meer gerpleegsters in staatshospitale aangestel nie.? Dit kan mos help met werkloosheid. Maak hul werksure minder en stel meer mense aan. Hoe moeilik kan dit nou wees.

Db ·

@Connie. Jy het nou ‘n baie dom vraag gevra oor waar al die wit susters en verpleegsters is. Het jy nou uit ‘n lang slap wakker geword dat jy nie besef wat in hierdie land aan die gang is nie

Nico ·

Maak dit ‘n 7 punt plan…

6. Sorg dat die afskaffing van die gemeenskapsdiensjaar plaasvind.
7. Haal die department van gesondheid uit as middelman en gee gesondheidsinstansies die vermoë om self hul personeel aan te stel eerder as wat voornemende personeel geplaas moet word na hul studies

Susna ·

Baie dankie aan Solidariteit vir julle inisiatief tov Verpleegkundiges, hoop dat julle poging om hierdie roeping weer op sy bene te kry suksesvol sal wees. Ek het twee dogters wat BCUR gedoen het op Universiteit 4 jaar kurses en daarna nog 2 jaar geswot het. Hulle het albei opgehou toe hulle moes kies tussen hulle gesins lewe en die werks omstandighede asook die salarisse wat nie kon vergoed vir die ure wat hulle nie by hulle kinders kon wees nie. My jongste dogter en haar familie wou verlede jaar Australia toe immigreer, die terugvoer vanuit Australia was ongelooflik. Ons verloor baie van ons beste dokters en verpleegkundiges aan ander lande.

Ria van der Merwe ·

Verpleegkolleges in die wes kaap het nie toegemaak nie. Daar is nog steeds staatskolleges wat die diploma doen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.