Vyfpuntplan vir verpleegkrisis aangekondig

(Foto: pixabay)

Die Solidariteit Beroepsgilde vir Gesondheidspraktisyns het gesê indien daar nie dringend ingegryp word en oplossings gevind word vir die enorme tekort aan verpleegpersoneel nie, Suid-Afrika ʼn moontlike nasionale gesondheidkrisis in die gesig staar.

“Een van die grootste uitdagings in die verpleegbedryf in Suid-Afrika is die tekort aan verpleegpersoneel. Daar is alreeds in 2010 ʼn tekort van meer as 44 700 verpleegpersoneel aangeteken,” het Hennie Bierman, hoof van Solidariteit Beroepsgildes, gesê.

Dié vakbond het Donderdag by ʼn mediakonferensie in Centurion bekendgemaak dat daar na raming sowat 38 000 poste is wat nie in 2017 in die beroep gevul is nie. Die syfers is saamgestel uit statistiek van die Suid-Afrikaanse Raad vir Verpleging (SARV) en navorsing van die Solidariteit Navorsingsinstituut.

“Die departement van gesondheid ondervind tans ernstige finansiële probleme. Dit lei daartoe dat slegs 50% van poste by openbare hospitale en klinieke gevul word,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Buiten poste wat nie gevul word nie, is die werksmag besig om vinnig te verouder.

“Volgens die SAVR se data is ongeveer 50% van alle geregistreerde verpleegkundiges bo die ouderdom van 50 jaar en slegs 5% is jonger as 30.

“Daar het sedert 2013 jaarliks ongeveer 8 500 minder verpleegkundiges tot die werksmag toegetree. In 2016 was die afgestudeerde studente 21 571 teenoor 13 036 in 2017. Dit is ʼn afname van meer as 8 000 nuwe verpleegkundiges wat die werksmag kan betree in net een jaar.”

Hermann het bygevoeg dat verpleegopleiding in Suid-Afrika tot ʼn groot mate tot stilstand gekom het.

“Geen private instansie het die afgelope drie jaar goedkeuring vir opleiding ontvang nie. Verder het die SARV heelwat van die kursusse wat by bestaande private instellings aangebied is, reeds in 2015 opgeskort.

“Daar word ook gesloer met die akkreditasie van alle verpleegkursusse en die goedkeuring van private verpleeginstellings wat al sedert 2014 aan die gang is.”

Hy meen verpleegpersoneel is die rugsteun van goeie gesondheidsorg, daarom skets die kritieke tekort aan goeie verpleegpersoneel ʼn somber prentjie vir Suid-Afrika se gesondheidsorg.

Buiten die tekorte aan personeel, gebrekkige studente-uitsette en poste wat nie gevul word nie, dra swak salarisse en swak werksomstandighede ook by tot die ernstige krisis in dié beroep.

Dit het Solidariteit genoop om ʼn vyfpuntplan aan te kondig om die krisis in verpleging te bekamp.

Die plan behels die volgende:

  1. ʼn Spesiale opleidingsfonds om verpleegsters op te lei. Die groter gesondheidsberoep en die publiek word gevra om tot die fonds by te dra.
  2. Akademia het reeds om akkreditasie vir ʼn graad in verpleging aansoek gedoen. Daar word beplan om honderde wêreldklas‑verpleegkundiges op te lei.
  3. Solidariteit gaan ʼn waghond in die werkplek wees om seker te maak dat werksomstandighede vir verpleegkundiges goed en bevorderlik vir goeie diens is.
  4. Solidariteit se maatskappy S-leer sal omvattende voortgesette leerprogramme vir verpleegpersoneel aanbied sodat seker gemaak word dat hulle wêreldklas bly.
  5. Solidariteit het reeds sy regspan opdrag gegee om moontlike litigasie te ondersoek oor die nie-akkreditasie van verpleegkursusse.

“Ons besef die staat is besig om toenemend te verswak en daarom wil ons met die beroepgildes verantwoordelikheid vir die beroepe oorneem. Die gildes sal verseker dat jongmense tot die beroep toetree en geplaas word.

“So skep ons ʼn burgerlike netwerk vir gesondheidsberoepe wat mense in die beroep plaas, ondersteun en mentor,” het Hermann gesê.

“Verpleegkunde as beroep in Suid-Afrika is in gevaar, maar die impak daarvan op goeie gesondheidsorg vir miljoene Suid-Afrikaners is byna ondenkbaar,” het Bierman saamgevat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Deon

Die val in die openbare gesondheidsektor is by die omdraaipunt verby. Die “miljoene” Suid Afrikaners wat vir die ANC gestem het moet hul regering druk vir beter gesondheidsorg. Solidariteit moet eerder planne maak om arm blankes te help om uit die elende van openbare gesondheidsorg te ontsnap. So stil-stil, uit die openbare oog.

zis

Solidariteit dankie vir jul 5 punt plan,maar hoe gaan julle dit reg kry? Hospitale moet 100% in werking wees,toerusting in werkende orde ,genoegsame voorraad ens. hoekom moet publiek bydra tot opleidingsfonds? Hoe wil julle `n waghond skep by werkplekke. Ek as `n verpleegkundige stel nie belang meer in verpleging nie,want in die huidige omstandighede kan geen mens ordentlike verpleging doen nie,omdat jy moet saam met mense werk wat nie meer worry oor die pasiënte nie, maar wel net in die salaris aan die einde van die maand. Enige een kan nie net opeiding gaan neem nie,jy moet `n passie vir… Lees meer »

Judge Dredd

…..en wat van BEE?

Sanna

Wonder nog steeds hoekom verpleeg colleges toegemaak het oor die afgelope 20 jaar? Dalk praat ek onder korreksie, maar in die Weskaap kan mens verplegingskursusse slegs volg by die Universiteit van die Weskaap.

marous

Geen verpleeg personeel wat enigsins hul sout werd is wil onderwerp word aan die totale verval waarin die gesondheid sorg van die land tans is nie . Kan net sowel miljoene voertuie bou en daar is geen pad om hulle te bestuur nie .