Vytjie Mentor: ‘Ek vrees vir my veiligheid’

Vytjie Mentor getuig voor die kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Gertrude Makhafola/ANA

Vytjie Mentor, die voormalige ANC-LP, getuig vandag weer voor die kommissie van ondersoek na staatskaping nadat sy Dinsdag aan die kommissielede gesê het sy vrees vir haar veiligheid terwyl sy met haar getuienis besig is.

ʼn Tranerige Mentor het aan adjunkhoofregter Raymond Zondo vertel dat daar vroeër vandeesweek met die deur van haar hotelkamer gepeuter is. Sy het gesê sy wil nie onnodig paniek saai nie, maar sy kan nie terugkeer na ʼn hotelkamer waar sy onveilig voel nie.

Sy het gesê sy het twee aande gelede gesien dat daar met die deur gepeuter is en die hotelbestuur daaroor ingelig. Toe sy terugkom van die kommissie af, het sy gesien dit is reggemaak.

Nadat sy Dinsdagoggend haar hotelkamer verlaat het, het sy besef dat sy haar bril agtergelaat het. “Ek het na my kamer teruggekeer. Die kamer is slegs toeganklik met ʼn kaart. Die deur wou nie oopmaak met die kaart nie. Ek het die kaart uitgehaal en weer probeer, sonder die kaart, en die deur het oopgemaak. As ek nie my bril vergeet het nie, sou ek vandag hierheen gekom het en ʼn kamer agtergelaat het wat nie gesluit is nie,” het sy gesê.

“Ek is bekommerd om terug te gaan na ʼn kamer waar ek nie weet wie in die kamer was of wat kan gebeur nie.”

Zondo het Mentor gerusgestel dat haar veiligheid ʼn prioriteit is en het Paul Pretorius, die hoof van die regspan, en Khotso De Wee, die kommissie se sekretaris, opdrag gegee om met Mentor en haar regspan te praat om vir haar veiliger alternatiewe akkommodasie vir Dinsdagaand te vind.

“Ek neem kennis van jou bekommernis. Jou getuienis betrek baie mense, hulle mag dalk hierheen kom en betwis wat jy gesê het, maar jy is bekommerd oor jou veiligheid. As dit beteken dat jy na alternatiewe akkommodasie geskuif moet word, dan moet dit gebeur. Ek sal vanaand met Pretorius en De Wee opvolg om te verseker dat die reëlings getref is.”

Mentor is die derde getuie wat voor die kommissie getuig. Sy het reeds getuig hoe voormalige pres. Jacob Zuma en regeringsbeamptes glo die voortvlugtende Gupta-familie se opdragte uitgevoer het. Sy het gesê Zuma en sy seun, Duduzane, het die Guptas onregverdiglik laat voordeel trek deur hulle toegang tot staatshulpbronne te gee en die familie toe te laat om vanuit hul Saxonwold-woning kabinetsministers te kies.

Mentor sit vandag haar getuienis voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Irma ·

Geen mens se lewe het enige waarde as hulle in die pad van die beskuldigdes kom nie. Ek glo dit is baie belangrik dat daar na die persone wat getuinis lewer se veiligheid te gekyk word. Die mense onder verdenking is nie saggeaarde mense nie. Geld en mag is vir hulle te belangrik en hulle sal niks in hul pad laat staan om hul doel te bereik nie. Mafia tipe optrede is altyd gevaarlik.

Leonora ·

Staan sterk…jy maak ‘n groot verskil. Baie het net hulle koppe weggedraai – jy nie! Ek hoop daar word vir jou bewaring gereël. Ek bid dat jy veilig sal wees.

marous ·

En die land se vors se nie ‘n woord nie . Ook nie sy minister van wetteloosheid nie.

Harrie1501 ·

Vytjie byt vas en druk deur…dit is mense soos jy wat hierdie land ‘n beter plek gaan maak !!!!!

Trisha ·

As ons as Suid Afrikaners net die waarde van intregiteit en lojaliteit kan besef- en weet en glo dat ons niks sonder God is nie……..Sal dit baie beter gaan in hierdie verwoeste land van ons.

Basjan ·

Integriteit by ‘n politikus? Wat is dit? By hoveel van hulle bestaan dit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.