Vytjie Mentor vandag voor staatskapingkommissie

Vytjie Mentor. Foto: Facebook

Die voormalige ANC-LP, Vytjie Mentor, sal vandag voor die kommissie van ondersoek na staatskaping verskyn om te getuig oor die Gupta-familie en hul sakevennote se beweerde verreikende en onbehoorlike invloed rakende staatskwessies.

Mentor, wat van die Noord-Kaap afkomstig is en die voormalige voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee van openbare ondernemings is, is wyd geloof dat sy die sluier gelig het oor die Guptas se beweerde betrokkenheid by staatskaping. In 2016 het Mentor onthul hoe destydse pres. Jacob Zuma en sy regering deur die Guptas beheer word.

Mentor het beweer die Guptas het haar die posisie van minister van openbare ondernemings aangebied om Barbara Hogan te vervang. Hulle het glo aan haar gesê sy kan minister word indien sy instem om die SAL-roete na Indië te staak.

Dié aanbod is glo in 2010 gemaak by die Guptas se woning terwyl Zuma in die vertrek langsaan was. Mentor het gesê sy het glo die aanbod van die hand gewys en was op pad om te gaan toe Zuma ingestap het. “Hy het net gesê: moenie bekommer nie, ntombazana, alles sal oukei wees,” het Mentor beweer.

Zuma het sedertdien ten sterkste ontken dat so ʼn voorval ooit gebeur het.

Ondanks doodsdreigemente en beledigings wat op sosiale media na haar gemik is, het Mentor in 2017 ʼn boek, No Holy Cows In My Political Life, bekendgestel. In die boek beweer sy Zuma het twee keer onvanpaste seksuele toenadering tot haar gesoek wat sy geweier het. Sy beweer dié voorvalle het in die 1990’s gebeur toe sy ʼn jonger ANC-lid was en weer tien jaar later toe sy die voorsitter van die ANC-koukus was.

EWN berig Mentor beweer sy is weer geïntimideer in aanloop tot haar verskyning vanoggend voor die komitee. Sy het aan die SAUK bevestig haar getuienis sal fokus op die Guptas se beweerde rol in die aanstelling en afdanking van lede van Zuma se kabinet.

Mcebisi Jonas, voormalige adjunkminister van finansies, het verlede week getuig hoe die Guptas ook probeer het om hom om te koop. Hy het getuig die Guptas het aan hom gesê Zuma sal enigiets doen wat hulle wil hê hy moet doen.

Volgens Jonas het die Guptas hom omkoopgeld van R6 miljoen en ʼn onmiddellike kontantbetaling van R600 000 aangebied as hy gewillig sou wees om die pos as minister van finansies te aanvaar en daarna hul opdragte uit te voer. Jonas beweer hy het die aanbiedinge van die hand gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rynhardt ·

Vytjie gaan met baie van Zuma en Guptas se gekonkelry en skandes navore bring asook omstrede transaksies ! Vytjie is bekend daarvoor dat sy uitgesproke is teen Zuma en dat sy nie soos ander die omstrede Zuma gaan omarm nie!??????

SjN ·

Wys hul jy is nie bang nie en kom uit met die hele sak patats, gee hul gas Vytjie.

Snowball ·

Vat hulle Vytjie! Integriteit is vandag so skaars soos hoendertande, dis skoon verfrissend om dit te sien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.