W-Kaap se infeksiekruin waarskynlik ‘platter, langer en eers later’

Die Wes-Kaapse premier Alan Winde help om ‘n bed in een van die provinsie se tydelike Covid-19-hospitale op te maak. (Foto: Twitter)

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê volgens die jongste vooruitskattings gaan die kruin van Covid-19-infeksies in die provinsie later as wat voorspel is, bereik word. Waar daar tevore voorspel is dat die kruin van infeksies in Junie en aan die begin van Julie bereik sou word, is dié datum nou na die einde van vandeesmaand en die begin van Augustus aangepas.

Winde sê die kruin is nou ook platter as wat oorspronklik voorspel is en volgens die vooruitskattingsmodelle gaan daar nie soveel mense in hospitale opgeneem óf sterftes wees as wat aanvanklik gedink is nie.

“As die situasie dieselfde bly, gaan daar volgens die vooruitskatting ʼn behoefte aan 5 450 beddens tydens die kruin benodig word. Dit is laer as die oorspronklike scenario in April [toe ʼn behoefte aan 6 304 beddens voorspel is],” het hy gesê.

Teen Mei is voorspel dat die provinsie nagenoeg 7 800 beddens sou benodig.

“Die platter trajek gaan egter langer duur wat moontlik kumulatiewe sterftes van nagenoeg 10 000 mense tydens die pandemie kan beteken,” het Winde gesê.

“Die virus kan langer met ons wees as wat aanvanklik gedink is, met die eerste kruin wat eers teen die einde van November kan eindig.”

Winde sê die Wes-Kaapse regering het topwetenskaplikes in sy departement van gesondheid, maar dat daar steeds nie met sekerheid gesê kan word hoekom die kurwe moontlik platter en langer gaan wees nie. “Ons het met ʼn ongekende situasie te doen en ons leer elke dag oor die virus,” het hy gesê.

Sommige faktore wat moontlik ʼn uitwerking het, is dat die virus op verskillende tye in verskillende dele van die streek sy kruin bereik. Nog ʼn moontlikheid is dat die virus almal nie op dieselfde manier besmet nie.

“Wanneer meer data beskikbaar is en ons meer te wete kom oor die pandemie in die Wes-Kaap en Suid-Afrika, gaan ons meer duidelikheid hê oor die redes vir die veranderings,” het Winde gesê.

Een van die Wes-Kaap se tydelike hospitale. (Foto: Twitter)

Die Wes-Kaap maak gebruik van data van die aktuariële vereniging van Suid-Afrika en die nasionale Covid-19-modelleringskonsortium om behoorlik op die virus te probeer voorberei.

Winde sê gegewe die jongste vooruitskattings en die feit dat daar nie die verwagte skielike toename in die behoefte aan hospitaalbeddens was nie, gaan die Wes-Kaap nie meer voort met die uitbreiding van ʼn tweede hospitaal by die Kaapstadse konvensiesentrum nie.

“Ons bestaande platform, tesame met operasionele veldhospitale en kapasiteit in die private sektor, beteken ons het in dié stadium genoeg kapasiteit om die verwagte las te hanteer.”

Sou daar ʼn behoefte aan meer beddens wees, kan die uitbreiding steeds gedoen word.

Die Wes-Kaap het reeds ʼn plan aanvaar om bykomende beddens in private fasiliteite vir staatspasiënte te bekom. Winde sê daar is verskeie voordele verbonde aan dié plan. Die infrastruktuur en kapasiteit by die hospitale is reeds in werking, asook enige tyd toeganklik. Dit bied toegang tot bykomende hulpbronne in landelike gebiede aan diegene wat nie toegang tot die bestaande veldhospitale in die Kaapse metrogebied het nie.

Die grootste hospitaalgroepe het reeds ingestem tot die plan en die provinsie is in die proses om dieselfde ooreenkoms met onafhanklike praktisyns aan te gaan.

Winde sê dit is belangrik om in gedagte te hou dat die modelle waarop vooruitskattings vir die Covid-19-pandemie gegrond is nie ʼn presiese wetenskap is nie. “Modelle is vooruitskattings wat beskikbare data gebruik en op aannames gegrond is. Dit help ons ontdek wat dalk kan gebeur, maar die uitslae moet met omsigtigheid en begrip vir die aannames, beperkings en onsekerheid behandel word.”

Covid- is ʼn nuwe siekteverskynsel en Winde sê daar is geen geskiedenis waarop aannames gegrond kan word nie.

Hy sê mense se alledaagse gedrag maak egter ook ʼn verskil aan hoe die virus versprei. “Ek besef die pandemie is oorweldigend en dat die regering ons aansê om soveel dinge te doen, maar mense moet besef dat hulle deur eenvoudige leefstylveranderinge werklik ʼn verskil kan maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bernard ·

Hoe lank nog gaan ons na foto’s van leë sale moet kyk en telkens moet hoor van die “piek” in Julie, dan Augustus, gevolg deur September en nou selfs November? En dis dan nou glo net die eerste golf? Vergeet van die infeksietelling en kyk eerder na die buitengewoon lae sterftesyfer – veral teenoor laasjaar se 11500.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.