W-Kaap versoek dat alkoholverbod onmiddellik gelig word

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde. (Foto: Armand Hough/ANA)

Die Wes-Kaapse kabinet het versoek dat die verbod op alkoholverkope onmiddellik gelig word, asook dat alle ondernemings in die provinsie toegelaat moet word om veilig te heropen.

Die kabinet het tydens ʼn bosberaad die kwessie van werkloosheid in die provinsie weens die Covid-19-pandemie bespreek.

“Die Wes-Kaapse regering het nie ʼn dag van die streng afsonderingstydperk vermors nie en het sy gesondheidsorgstelsels voorberei op die piek van infeksies,” het Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, gesê. “Ons het ons reaksie ernstig opgeneem en verseker dat ons betyds bykomende veldhospitale het, asook voldoende voorraad van persoonlike beskermende toerusting en ander mediese voorrade soos suurstof.”

Die jongste data wys dat die Wes-Kaap verby die piek is. Hospitale in die metro is 69% vol terwyl veldhospitale ook steeds baie plek het. “In werklikheid het ons nou ʼn punt bereik waar ons noukeurig moet oorweeg of al ons veldhospitale moet oopbly.”

Volgens Winde kry die ekonomiese ramp egter ál sterker momentum en gaan duisende betrekkings en werkgeleenthede verlore. “Ondernemings wat tienduisende mense in diens het, is aan’t krimp onder die voortgesette beperkings op ekonomiese aktiwiteit, lae vertroue en verminderde vraag.”

Daar word beraam dat die Wes-Kaap R720 miljoen aan inkomste en 167 000 werkgeleenthede gaan verloor. “Dit is bykans 200 000 mense, baie in kwesbare gemeenskappe, wat nie meer ʼn inkomste sal hê om kos op die tafel te sit nie. Hul afhanklikes en kinders gaan ook ly en dit behoort elke besluitnemer in hierdie land slapelose nagte te gee.”

Die Wes-Kaapse regering meen indien hy toegang tot gesondheidsfasiliteite vir alle Covid-19-pasiënte kan verseker, moet alle ondernemings ook toegelaat word om veilig oop te maak. “Gegewe ons vermoë om op Covid-19 te reageer, die feit dat ons ons piek bereik het, en dat ons maatreëls ingestel het om ondernemings te ondersteun sodat hulle weer veilig kan oopmaak, is daar geen rasionele rede om ondernemings gesluit te hou nie.”

Volgens Winde is sy kabinet dit eens dat alkoholverwante skade ʼn reuseprobleem in die provinsie en land is en wys hul data dat die aantal traumagevalle onmiddellik afgeneem het met die instel van die alkoholverbod.

(Foto: Saai)

“Ons kan egter nie slegs hierna kyk nie en dus moet daar ook ag geslaan word op die ander gevolge van die voortgesette alkoholverbod. Suid-Afrika is een van die beste wynproduserende lande ter wêreld, en die sektor is oorwegend in ons provinsie geleë.”

Die wynbedryforganisasie Vinpro beraam dat die aanvanklike verbod van nege weke op plaaslike verkope, en die verbod op uitvoer van vyf weke, tot gevolg sal hê dat 18 000 werkgeleenthede verlore gaan, en dat 80 wynmakers en 350 druiweprodusente hul ondernemings oor die volgende jaar gaan moet sluit.

“Die uitwerking van hierdie tydelike verbod word nie net in ons landbou- en boerderygemeenskappe ervaar nie, maar ook in ons toerisme- en gasvryheidsektor. Die werklikheid in hierdie sektor is dat restaurante op alkoholverkope staatmaak om winsgewend te bly. As ondernemings wat behoorlik gelisensieer is, nie toegelaat word om alkohol op die perseel te verkoop nie, sal hulle nie finansieel lewensvatbaar kan bly nie.”

Volgens Winde het die Wes-Kaap ʼn verwikkelde situasie om in die provinsie aan te raak aangesien die voortgesette verbod op alkoholverkope tot ʼn bloedbad rakende werk sal lei.

“Ons moet ook onthou dat die alkoholverbod nie net van krag was omdat drankverbruik in die algemeen skade berokken nie. Inteendeel, die vermelde rede is dat alkoholverwante gevalle die vermoë van gesondheidsorgstelsels om versorging aan Covid-19-pasiënte te verskaf, ondermyn. Min. Nkosazana Dlamini-Zuma het dit onlangs in hofstukke beklemtoon.

“Dit is nie die geval in ons provinsie nie. Die Wes-Kaap het sy piek bereik en het tans voldoende kapasiteit, dermate dat ons dit binnekort sal oorweeg of al ons veldhospitale nog moet oopbly.

“Gegewe hierdie feit, asook die ernstige gevolge van hierdie verbod op die lewensbestaan ​​van ons mense, kan ons nie langer die voortgesette opskorting van binnelandse alkoholverkope in die Wes-Kaap ondersteun nie.”

Winde het gesê hy sal nou namens die Wes-Kaapse regering samesprekings voer met min. Dlamini-Zuma en dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, aangesien die nasionale regering verantwoordelik is vir die Wet op Rampbestuur. “Ek het reeds ʼn vergadering aangevra om dit te doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

JohanR ·

Dit is tyd Simon dat Suid Afrika afstig! Los net vir die ANC Nkandla en LootFreely Huis wat herdoop kan word na NoMoreFreeLunches Huis. Daar by Nkandla het hulle self ‘n FirePool om in rond te baljaar. Ek dink as in October ‘n verkiesing gehou word sou dit klaarpraat met die ANC wees. Baie ANC stemmers het wakker geskrik hierdie laaste 4 maande.

Adam Adriaan ·

Ja die manne daar sal bly wees as die tanne weer permanent in die wyn kan dryf

Wilhelm ·

Liewe DA, gee vir ons ‘n referendum vir Wes-Kaap onafhanklikheid, dan sal julle sien wat die meerderheid inwoners wil he. Julle het geen mag op nationale vlak nie.

sterk soos n beer ·

Dit is tyd dat weskaap wat da is onafhanklik word van res van suid afrika af sodat die da regering in weskaap hulle eie besluite kan neem

Kokerboom ·

By afstigting is dit dan net ‘n kwessie van tyd voordat die res van die verwoeste Ooskaap daar opdaag.
Die ANC is diep geslepe

Pieter ·

Kom ons maak soos die taxis hoekom die klomp ANC komuniste smeek hulle geniet dit om in beheer te wees. Ons moet nou regtig wakker skrik dit gaan lankal nie meer oor die virus. Waar het jy gesien jy verloor biljoene in belasting geld net om 16 icu beddens te spaar. Wat dink die komuniste ons het hulle mentaliteit ons moet op smeek en doen wat die taxis doen.

johanf ·

Baie goed, maar twyfel sterk of ZM net 1 provinsie sal oopmaak, want haar provinsie van oorsprong sukkel nog……. Ons kyk maar, en raak nie te opgewonde nie…

Prikkie ·

Sal nie asem ophou vir die positiewe uitkoms van daardie vergadering nie.

Tannie Kopdoek verstaan geen rede nie.

Kiki ·

Mense vergaan van ellende, honger nie Covid nie. Maak alles georden oop mense kan leef. Inkomste genereer en ekonomie begin groei…

Leefstyl is elke mens se reg …..Waar is die menseregte?

Wonderlik dat Covid Vigs TB, kanker en al die ander siektes uitgewis het.

Komaan die Lewe gaan aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.