‘Waagmoed werd om vir ewig onthou te word’

Die laning plataanbome soos dit vandag lyk. Dit is ter herinnering aan Delville-bos staan weerskate van Jan Smutslaan. (Foto: Petronel Fourie)

In Delville-bos, Frankryk, het net een boom staande gebly ná die verwoestende slag wat in 1916 as deel van die Eerste Wêreldoorlog daar plaasgevind het. Een boom wat kon getuig van die meer as 2 000 Suid-Afrikaanse lewens wat daar opgeoffer is.

Twee steggies van die einste eensame boom wat die Slag van Delville-bos oorleef het, ʼn haagbeuk of wielboom (hornbeam in Engels), is in Pretoria geplant om hierdie historiese gebeurtenis te herdenk. Die een boom is by Fort Klapperkop geplant en die ander by die ingang van die Smutshuismuseum se terrein.

Bo en behalwe dié twee bome, is ʼn hele laning plataanbome aangeplant ter herinnering aan die manskappe wat by Delville-bos gesneuwel het. Dié herinneringslaning waak sedert 1966 weerskante van Jan Smutslaan in Irene, sodra jy verby die Smutshuismuseum se ingang gery het. Maar die bome – en by implikasie dít wat dit verteenwoordig – word nou bedreig deur eiendomsontwikkeling wat in die omgewing plaasvind.

Die boomlaan wat by die Smutshuis aangeplant is herdenk die Suid-Afrikaanse soldate wat in die slag gesterf het. In 1995 was daar nog net 75 van die oorspronklike bome oor. (Foto: Verskaf)

Oor bome en bomme

Inligting oor die boom wat Jack Oats geplant het, binne die militêre driehoekmonument. (Foto: Petronel Fourie)

Suid-Afrikaanse deelname aan die Eerste Wêreldoorlog het ʼn hoogtepunt bereik met die Slag van Delville-bos. Dié bloedige slag het van 15 tot 20 Julie 1916 gewoed. Die Suid-Afrikaanse infanteriebrigade het opdrag ontvang om die bos buite die Franse dorpie Longueal in te neem en ten alle koste hul posisie te verdedig. Ondanks verbete teenaanvalle van drie Duitse divisies het die brigade verseg om oor te gee. Op 20 Julie is hulle ná ʼn woeste geveg van ses dae en vyf nagte afgelos. Bronne verskil oor die presiese getalle, maar net ʼn handvol offisiere en sowat 750 man uit ʼn mag van meer as 100 offisiere en 3 000 soldate het uit Delville-bos marsjeer. Nog ʼn paar het later aan hul wonde beswyk.

Hermann Giliomee en Bernard Mbenga skryf in hul boek Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika dat ʼn waarnemer uit die tyd van mening was dat Delville-bos “’n epog van verskrikking en glorie was wat nouliks in die veldtog geëwenaar is” en hy het geglo dat “as ʼn kordaatstuk van menslike waagmoed en dapperheid die geveg werd is om vir ewig deur Suid-Afrika en Brittanje onthou te word”.

Die verwoesting wat in daardie bos gesaai is, was enorm. Die bome is op daardie dag flenters geskiet, maar het oor die jare weer gegroei, die bos se oorlogswonde is genees. Omdat die bome so ʼn belangrike rol in die Slag van Delville-bos gespeel het en letterlik in die slag moes bly terwyl mense oorlog teen mekaar gemaak het, het die Memorable Order of Tin Hats (MOTH) besluit om juis ʼn laning bome ter ere van Delville-bos se gesneuweldes te plant.

Hou herinnering in ere

Die bord by die militêre driehoekmonument met die laning bome regs agter dit. (Foto: Petronel Fourie)

Die idee om ʼn herinneringslaan te plant het in 1963 ontkiem. Talle klubs van die Moths reg oor die land het geld geskenk om die bome aan te koop. Jan Smuts het self ʼn aandeel aan die stigting van die Moths gehad, met die doel om soldate en hul gesinne na die oorlog by te staan, en daar is ʼn aktiewe Moth-klub genaamd Field Marshall op die Smutshuismuseum se terrein, naby die laning bome.

Die eerste bome is in 1966 as gedenkteken geplant – 50 jaar na die slag. Gedurende die volgende vyf jaar is daar nog bome geplant, totdat daar in 1971 altesaam 108 bome gestaan het. Van daardie bome lewe 75 vandag nog – 51 jaar later. Hiermee saam is daar ʼn klipdriehoek by die Smutshuismuseum se ingangshek gebou, met twee gedenkplate daarop gemonteer wat in 1970 onthul is. Op die driehoek het Jack Oates, wat Delville-bos se stryd oorleef het, een van die twee steggies van daardie enkele oorlewende Delville-bos-boom geplant. Ná sy afsterwe in 1976 is sy as ook daar gestrooi.

Die Moths het deur die jare baie gedoen om die erfenis wat in Irene te vinde is, te bewaar. Hulle het byvoorbeeld in 1961 daarvoor gesorg dat die Smutshuis en die terrein gekoop word om as museum te bewaar. Die museum, laning en die driehoekige militêre monument by die ingang van die Smuts-terrein is onlosmaaklik deel van mekaar, en deel van ʼn belangrike era in Suid-Afrika se geskiedenis, toe ons soldate as deel van die Unie-verdedigingsmag aan die Eerste Wêreldoorlog deelgeneem het.

Tim Lane, voorsitter van die Moths se Field Marshall-klub, sê dat dit vreeslik hartseer sal wees om hierdie laning bome in die aangesig van ontwikkeling te verloor. “Dit sal inderwaarheid ʼn klap in die gesig wees van diegene wat hul lewens opgeoffer het om ʼn veiliger omgewing vir ons te skep – en dit net om geld te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sarel

Dit is die mens…vernietig alles wat voorkom

Diline

Vernietig die natuur en dit vir GELD?

Althes

Die bome skep atmosfeer en het ñ hisoriede betekenis. Los hulle uit.

Astrain

Begin asb ‘n petisie daarteen en kry die omgewingsbewaring organisasies aan julle kant!