Waar is komitee vir KZN-vloede, vra DA

Die verwoestende gevolge word duidelik en daar is oproepe dat Suid-Afrika se infrastruktuur herbeplan sal moet word. (Foto: Guillem Sartorio/AFP)

Dit is nou vier weke sedert die verwoestende oorstromings in KwaZulu-Natal, en drie weke sedert die aankondiging dat die parlement ʼn ad hoc-komitee sal aanstel om die reaksie en verligtingsmaatreëls in die provinsie sal oorsien. Steeds is daar geen teken van dié komitee nie, sê John Steenhuisen, leier van die Demokratiese Alliansie.

“Intussen is die gemeenskappe al langs die kus steeds sonder water, hulle sit met beskadigde infrastruktuur en talle inwoners weet glad nie hoe om toegang te bekom tot maatskaplike welstand of hoe om te eis vir skade nie.”

Steenhuisen sê die ekonomiese impak van die oorstromings sluit ʼn beduidende ontwrigting in van die stad se hawe-logistiek en spoorweë. Transnet Freight Rail (TFR) het pas ʼn sewe weke lange force majeure verklaar.

“Dit is ʼn voortgesette en kritieke noodgeval, maar die reaksie van die eThekwini-munisipaliteit (Durban), van die nasionale regering en die speaker van die parlement dui op geen dringendheid nie.”

Steenhuisen sê tipies vir die ANC was daar vinnige toesprake en aankondigings. “Pres. [Cyril] Ramaphosa het onmiddellik die land toegespreek ná die oorstromings en het verligtingsfondse en parlementêre betrokkenheid belowe. Die speaker van die parlement het vinnig op 21 April ook die betrokkenheid bevestig en alle partye het die voorstel ondersteun. Nou, drie weke later, het die ad hoc-komitee nog steeds nie vergader nie en daar is nog nie eens ʼn voorsitter aangewys nie.

“Die speaker voer aan sy wag vir die naam van die verteenwoordiger van die kleiner partye, en die komitee behoort teen volgende week (10 dae sedert verlede Donderdag) ʼn voorsitter aan te wys. Hierdie enkele hindernis verklaar egter nie ʼn drie weke lange vertraging om ʼn komitee saam te roep wat ʼn intydse noodgeval moet hanteer nie.”

Hy sê pres. Ramaphosa het tydens ʼn parlementêre debat oor die oorstromings op 26 April  die parlement se vinnige besluit om die komitee aan te stel geloof, en hy het die komitee opdrag gegee om die uitgawes van die verligtingsfondse te monitor om korrupsie te voorkom. “Buiten die feit dat die komitee steeds nie vergader het nie, was die verligtingsfondse ook net skyn – dit was eintlik net om ʼn bestaande begroting te herprioritiseer, en dit is ook nog nie gedoen nie.”

Steenhuisen sê die reaksie op die oorstromings deur die eThekwini-munisipaliteit is nie veel beter nie. “Die burgemeester was nog heeltemal afwesig en die stadsraad se uitvoerende komitee het sedert 26 April nog nie vergader nie. Die DA in die eThekwini-raad het daaglikse vroegoggend-vergaderings versoek om die krisis te bestuur, maar selfs dit is nie deur die burgemeester oorweeg nie.”

Hy sê die situasie in eThekwini en die omliggende gebiede is benard. “Honderde duisende mense het nie gereelde watertoevoer nie, die verspreiding van water deur tenkwaens en op ander maniere is chaoties en ondoeltreffend; daar is geen kommunikasie oor water- of kragonderbrekings nie; talle gemeenskappe sit met rioolstortings en daar is geen teken dat dit opgeruim gaan word nie; daar is nie ʼn duidelike proses vir eise nie; en daar is talle veiligheid- en gesondheidskwessies oor die tydelike behuising van inwoners in gemeenskapsale.”

Steenhuisen sê die parlement moet ingryp waar die munisipaliteit klaarblyklik nie suksesvol is nie. “Dit is onaanvaarbaar dat hierdie menseregte-noodgeval met sulke apatie hanteer word. Ek doen ʼn beroep op pres. Ramaphosa om in te gryp en seker te maak dat sy beloftes op die televisie waarheid word en dat dit lei tot onmiddellike aksie op die grond.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Anel ·

Meer bekommerd oor die R50milj wat hulle nou nie vir Kuba kan stuur nie. Gebruik die geld vir hierdie mense. Net weer ‘n bewys dat hierdie regering nie ‘n krisis kan hanteer nie!!!

Nie Verbaas ·

Soos gewoonlik is hulle te besig om niks te doen en dit met die tien wat een se werk moet doen.

Adriana ·

Daardie geld is lankal al in hul sakke en gespandeer, dis hoekom daar nog niks aangaan.

Snowball ·

Ou laai van Ramaphosa en sy korrupte party – dit praat, beduie en belowe dat die berge weergalm, maar sweet blue … gebeur. Luister maar die ‘speeches’ – as dit eers begin ‘ensure’ hier en ‘ensure’ daar dan moet jy weet dis een groot gelieg.

Kokerboom ·

Terme “beplanning, onderhoud en toekoms” bestaan NIE in ANC se verwysingsraamwerk! Dit spel “WERK ” uit!!!Wanneer gaan ons dit besef?

Di ·

ALS wat uit hierdie korrupte spul LEUENAARS se monde uit kom is BOLLIE. Wys my 1 ding wat hulle belowe het oor al die jare, wat wel plaasgevind het – NIKS, ZERO, boggerol

Stef ·

En ten spyte van al die ellende, met volgende verkiesing stem die massas in elkegeval weer ANC.

Jack ·

As iets vinnig gebeur met ramaphosa en sy span mislukte mk soldate dan moet daar fout wees. Komitee is incognito aangestel om die verdeling van die rampfondse na eie sakke te hanteer. Wie weet hoeveel geld is al beskikbaar vir verdeling. Die regering se rekord van totale korrupsie is welbekend en niemand in die land vertrou hulle nie. Die nag van die lang messe kan nie geringgeskat word nie.

Swerwer ·

Daar is nie geld om die komitee saam te stel nie en nie genoeg om hul te betaal nie. Leë beloftes soos altyd, dit is die leuse van die ANC.

christo ·

Ons behoort mos teen dié tyd te weet dat Ramaphosa ( die dromer ) nie die woord by die daad kan voeg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.