Waar kom jy vandaan? Genealogiefees in Pta gehou

Dr. Johan Ernst (Foto verskaf deur die FAK)

Die FAK in samewerking met die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) het Saterdag vir die eerste keer in vier jaar weer in lewende lywe ’n familiefees gehou.

Die FAK Genealogie- en Familiefees wat by die Voortrekkermonument aangebied is, het oud en jonk gelok om meer van hul eie erfenis te leer.

Isabel Groesbeek, feesorganiseerder, het met die opening van die dag bewoë geraak oor persone se belangstelling in hul herkoms. “Dit is heerlik om almal in lewende lywe te sien. Die doel van die fees is om genealogie aan die publiek bekend te stel en mens bou ’n netwerk van mense waarmee jy kan skakel. Ek hoop dat elkeen die waarde van hul familiegeskiedenis só kan waardeer.”

Daar was 21 uitstallers by die fees, waarvan drie familiebonde (die Vermeulens, Malans en Hennings) en verder nog tien families was.

Selfs bekendes het kom gesig wys by die fees. Wat min mense weet, is dat Gareth Cliff ’n nasaat van Piet Retief en Andries Pretorius is.

“Ek is definitief trots Afrikaans en lief vir my taal. Ek dink die Afrikaners is uitstekende mense. Sterk, eerbaar en ’n trotse nasie. Dis wonderlik dat daar feeste is waar mense meer van hul herkoms kan leer,” sê Cliff.

Gareth Cliff het ook die fees bygewoon (Foto verskaf deur die FAK)

Dr. Johan Ernst, spreker by die geleentheid en navorser vir die Botha-familie, vertel die staaltjie van die soeke na die vrou met die sewe name: Susara Susanna Gesina Elizabeth Jacoba Margaretha Magdalena Botha. Deur verdere navorsing kon hulle agterkom waar Botha vandaan kom en wanneer sy gesterf het, maar kon tot vandag toe nie haar doopregister opspoor om vas te stel wanneer sy gebore is nie.

Die versoek oor die herkoms van Botha kom van ’n familielid Mariette Benadé in 2016 wat in Kalifornië, VSA, woon.

Selfs die jongmense van vandag stel belang in hul herkoms. Shay-Li du Toit (16) wat die fees saam met haar oupa besoek het vertel: “Ek wil plakkate van my stamboom teen my muur hang.”

Maar jy is nooit te oud om van jou herkoms te leer nie. Elsa de Jager het onlangs by ’n klub vir genealogie aangesluit by Oostvallei Aftree-oord en die hele klub het die geleentheid bygewoon. “Ek is op soek na leiding oor waar om te soek vir inligting,” sê De Jager. Sy is verseker op die regte plek!

Hoof van Erfenisbewaring by die Erfenisstigting, Jaco Ciliers, sê: “Elkeen is ’n ambassadeur vir hul eie erfenis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Robert Sydney ·

Genealogie is baie interessant. Mens kom baie interessante goed van jou voorvaders agter, sommige waarvan jy liewer nie vir jou vriende wil vertel nie! Sekerlik die beste organisasie om by aan te sluit is Geni.com. Hier werk almal saam en kan jy jou stamboom aansluit by iemand anders s’n as julle gemeenskaplike voorsate het. Op hierdie manier het ek al meer as 50 000 (vyftig duisend!) voorsate. Iets interessant. In ‘n duisend jaar is daar ongeveer 40 geslagte. Dit beteken dat jy ‘n duisend jaar gelede 1 099 511 627 776 oupas en oumas gehad het wat toe almal op dieselfde tyd gelewe het! Op daardie stadium was die totale wêreldbevolking maar slegs 300 000 000! Al wat dit kan beteken is dat ons almal dieselfde voorouers het. Ons is dus almal familie.

Dr Marthinus J S ·

Die dekking oor die familiefees beklemtoon tot n groot mate die opgewondenheid van nuwe toetreders tot genealogie. Ongelukkig was daar nie ‘n hofie nuwe publikasies wat prominensie verleen het aan die aspek nie. Kortliks die Jordaan-familie het hul 2 de uitgawe van die Jourdan / Jordaan register by die fees bekend gestel. Die 2 de uitgawe bevat 4 volumes wat n totaal van 19 dele het. Vol I handel oor die stamboom vanaf Adam en Eva tot Jourdan. Ondermeer ook n hoofstuk oor die Waldensiese beweging en bykans 80 verwysings na plekname wat na n lid van die Jordaan-familie vernoem is . Vol II, III en IV bevat die stambome van die Jordaan stamvader Jean se drie seuns Jan, Paul en Louis. Die publikasie beslaan 7 000+p met 66 700 name in die register. Met die uitsondering van drie honderd jaar is die Jordaan bloedlyn volledig vanaf Adam en Eva tot die jongs gebore. Die register beslaan lede van die Jordaan-familie oor die wêreld met drie mede skrywers. ‘n Elektroniese weergawe is oppad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.