Waar laat vergoeding Zimbabwiese boere?

Dr. Theo de Jager. (Foto: Saai)

Daar is geen eenvoudige antwoorde op die komplekse politieke en ekonomiese vrae van ons tyd nie.

Ek besef dit opnuut elke week wanneer ek weer ’n e-pos van die Kommersiële Landbou-unie (CFU) in Zimbabwe oopmaak waarin hulle die afsterwe van nog ’n lid aankondig en die naam by ’n gesig plaas: nog ’n verswakte bejaarde wat in ’n verwaarloosde ouetehuis of hospitaalbed gesukkel het om vir mediese versorging te betaal en finansieel sy punte bymekaar te kry. Elkeen van hulle het gehoop dat vergoeding vir plase, vee, oeste en toerusting wat sedert 2000 sonder vergoeding onteien is, nog in hulle leeftyd sou gebeur en die nood sou verlig.

Slagoffers van onteiening sonder vergoeding in Zimbabwe vra daagliks: “Behoort ons met ’n minder-as-ideale vergoedingskikking tevrede te wees? Of moet ons aanhou om in Zimbabwiese en Suid-Afrikaanse howe, in streekstribunale en internasionale forums te baklei totdat ons ’n billike en regverdige uitkoms kan beding?”

Sulke vrae het geen eenvoudige antwoorde nie.

Daar is nie ’n ideale skikking wanneer ’n mens ’n weg uit ’n diepgewortelde konflik uit onderhandel nie. In die hamermeule van gee-en-neem-ooreenkomste offer almal meer op as waarmee hulle gemaklik is, om minder te wen as wat hulle wou gehad het. Die CFU het bereken dat verbeteringe op onteiende plase, wat die ZANU-PF-regering nou bereid is om uit te betaal, ongeveer VSA$5,2 miljard werd is. Die skikkingswaarde van VSA$3,5 miljard wat in Julie 2020 onderteken is, is tweederdes daarvan.

Die vraag is eerder: Moet daar na die doelhok geskop word wanneer die geringste gaping hom voordoen, of is dit die moeite werd om nog tien of 15 jaar te wag vir ’n beter geleentheid en intussen op elke moontlike platform vir jou regte te baklei? Wat is die finansiële, ekonomiese, politieke, maatskaplike en reputasierisiko’s wat daarmee gepaardgaan?

Vir Zimbabwiese boere hoef dit egter nie ’n óf te wees nie, dit kan ook ’n én wees. Tref ’n ongemaklike kompromis en behou die morele hoë grond deur ’n onvolmaakte onderhandelde skikking oor vergoeding te onderskryf, terwyl jy terselfdertyd in Suid-Afrikaanse en internasionale howe en tribunale, media en beleidmakende liggame die ongeregtigheid aanval. Waar die plaaslike landboustruktuur weens die inhoud van die skikkingsooreenkoms dit nie kan doen nie, kan ’n ander verteenwoordigende voertuig daarvoor gebruik word.

Die veg-opsie is vermoeiend, duur, tydrowend en tap jou hulpbronne. Hulp van buite is daarvoor nodig, maar tot dusver het dit resultate gelewer. In November 2008 het die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap- (SAOG-)tribunaal ’n epogmakende uitspraak teen die Zimbabwiese regering se grondgrypveldtog gelewer. Hoewel dit daartoe gelei het dat die tribunaal in 2012 deur die SAOG-beraad ontbind is (ná ’n proses waarin die Suid-Afrikaanse regering geen geringe rol gespeel het nie), is die uitspraak in die Suid-Afrikaanse reg geregistreer en is daar in September 2015 op Zimbabwiese eiendom in Kaapstad beslag gelê en is dit opgeveil om uitstaande regskoste te dek.

Vandeesweek is ’n verdere saak in die Noord-Gautengse hooggeregshof aangehoor waarin die Suid-Afrikaanse regering se aanspreeklikheid getoets is vir verliese wat vanweë sy betrokkenheid by die ontbinding van die SAOG-tribunaal gely is. Uitspraak in dié saak is voorbehou.

Die konfrontasieroete, veral in die internasionale en regsarenas, leun swaar op artikel 17 van die Universele Deklarasie van Menseregte, wat in Washington en Brussel meestal die debat oor hulp aan Zimbabwe dikteer. Tydens die Groenweek in Berlyn in Januarie vanjaar het ek ’n gesprek tussen ’n senior amptenaar van die Wêreldbank en wyle minister Perrance Shiri van Zimbabwe gefasiliteer waartydens die voorneme tot vergoeding, die inkoop van geraakte boere en moontlike toegang tot ’n lening daarvoor bespreek is.

Die amptenaar het gesê hy verteenwoordig ’n bank, nie ’n welsynorganisasie nie, en dat hulle kyk na die vermoë om terug te betaal, die baanrekord van terugbetaling van vorige skuld en die huidige beleidsomgewing se vermoë om groei en welvaart teweeg te bring. Hy was skepties oor Zimbabwe se profiel op enige van daardie kriteria.

Die grootste enkele probleem met die Zimbabwiese vergoedingskikking is dat hy nie die geld het om dit uit te voer nie en nog nie weet waar om dit te kry nie. Die helfte van die VSA$3,5 miljard is betaalbaar voor Julie 2021.

As Zimbabwiese grondhervorming nies, kry Suid-Afrika en Namibië ook verkoue. Die beginsels wat in die Zimbabwiese vergoedingskikking geld, word ’n formaat vir die res van die streek, en daarom is dit vir elke Suid-Afrikaanse plaaseienaar belangrik om verwikkelinge aldaar dop te hou. Dit is belangrik om te kyk na hoe, waar, wat en wanneer vergoeding betaal word en waarom.

Net verbeteringe word uitbetaal, nie die grond nie, behalwe aan “inheemse Zimbabwiërs” en boere wat deur Bilaterale Beskerming van Beleggingsooreenkomste (BIPPA’s) gedek word (Suid-Afrikaners, Switsers, Nederlanders, Duitsers, Dene en sewe ander). Dit gee aan buitelandse beleggers meer regte as aan Zimbabwiese burgers. Dit sê aan wit Zimbabwiërs dat hulle eintlik “nie van hier is nie”, en ken ’n tweedeklasburgerskap aan hulle toe.

Dit pypkan die Zimbabwiese staat se betrokkenheid en voordeel uit die totstandkoming van die “onaanvaarbare verspreiding van grondeienaarskap” deurdat hulle deurlopend eienaarskap in ’n aktekantoor geregistreer en oordragbelastings daarop gehef het.

Maar geen ongeregtigheid is ooit finaal nie.

Moet onteiende Zimbabwiese boere die skikkingsooreenkoms aangryp of nie? Hulle gemiddelde ouderdom is oor die 80 jaar. Hulle moet die vergoeding wat aangebied word, vat en daardeur die deur oopmaak vir Zimbabwe om weer sy rol as ’n hoogs mededingende landbouprodusent te herstel. Hulle moet weer die vertoonvenster van die wêreld se beesvleis-, tabak-, katoen- en snyblombedrywe word en die welvaart skep wat hulle land uit sy nypende armoede kan trek.

Hulle mag in die proses egter nie die konfrontasie-opsies afskeep nie.

Dr. Theo de Jager is die direksievoorsitter van Saai en president van die Wêreldlandbou-organisasie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Theo de Jager

Theo de Jager is die direksievoorsitter van Saai.

Deel van: Meningsvormers, SA-nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Frederik C ·

Maw die wittes moet maar weer opbou (voor hul doodgaan) wat Mugabe en sy terroriste afgebreek het.

JohanR ·

Frederik C – mag ek jou woorde gebruik en 15 jaar voorentoe beweeg se na 2035? Die wittes moet maar weer opbou (voor hul doodgaan) wat Ramaphosa en sy EFF terroriste afgebreek het……dit kom!

Stefan ·

Kom ons wees eerlik.
Daar is nie eers geld om die hoogs nodige te betaal nie, wat nog van blanke boere.

RB ·

Hoewel hierdie oplossing baie beslis niè ideaal is nie, reken ek die skrywer se voorstel maak sin.
Vat wat jy kan kry sodra jy dit kan kry (nie dat daar iets is nie) maar moenie ophou veg vir wat jou werklik toekom nie.

Om te wag totdat jy alles kan kry wat jy wil hê, mag beteken jy wag vergeefs op iets wat net in jou drome of Lalaland gaan gebeur.

Adam Adriaan ·

Dit is Afrika. Terroriste en nogmaals terroriste van bo tot onder. Moet nie dink dit gaan hier in SA anders wees nie

Mad Mike die Rhodesiër ·

My pa het in die ou Rhodesië geboer met wild en tabak, maar het sy twee “ranches” verloor aan die swart oormag. Ons het hervestig in SA. Ek glo nie hy het ooit enigiets vir dit ontvang nie. Ons het in SA aangekom met 500 (OU) Rhodesiese Dollars en ‘n vakansie-tas klere en ekstras. Ons het vir ons ‘n nuwe lewe van niks hier in SA gebou.

Kanjynoumeer ·

Mad Mike die Rhodesiër, noudat jy in Suid-Afrika is, wat maak Suid Afrika anders as die oud Rhodesië of nou Zimbabwe?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.