Waardige wenner vir Kinders van die Wind-beurs

timon-oosthuizen

Timon Oosthuizen, eerste wenner van die Kinders van die Wind-beurs

Timon Oosthuizen (18) is sopas aangewys as die wenner van die Kinders van die Wind-beurs om volgende jaar B.Mus aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth te gaan studeer.

Die Kinders van die Wind-beurs vir studente wat ligte musiek wil studeer, is op die been gebring om die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye, Kinders van die Wind, te vereer en te verewig. Dié liedjie is op 26 Oktober deur die Afrikaanssprekende publiek aangewys as die wenner in Maroela Media se soeke na die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye. Klik hier om meer te lees.

“Maroela Media wou graag die liedjie wat die titel Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye ontvang, op ‘n besonderse manier verewig, sodat dit meer is as net ‘n titel wat toegeken en vergeet word,” het Susan Lombaard, bestuurder van Maroela Media, gesê. Klik hier om meer te lees.

Timon het in Jeffreysbaai grootgeword en is die oudste van sewe broers en susters. Hy is al van kleins af lief vir musiek maak. Hy speel tans dromme, kitaar en baskitaar, maar wil graag leer klavier speel om eendag die gehoor self met al sy musiektalente te vermaak!

Die gesin is betrokke by hul gemeente se aanbiddingspan en sy pa en ma is altwee voorsangers.

Die beurs word geadministreer deur die Helpende Hand-beursfonds. Volgens Dinah Jacobs, hoof van die Afrikaanse Beursinstituut by Solidariteit Helpende Hand, het hulle vanjaar net meer as 3 000 aansoeke ontvang van studente vir studiebeurse in 2014. “Timon se aansoek het baie goeie meriete, aangesien hy uitstekende punte sowel as maatskaplike omstandighede geïdentifiseer het,” het Jacobs bygevoeg.

Die fondse in die beurs sal aangewend word om Afrikaanssprekende studente wat ligte musiek of (indien daar ʼn gebrek aan gepaste aansoeke is) in ʼn kuns en kultuur-rigting wil studeer, finansieel te ondersteun.

Lede van die publiek kan ook bydra tot die Kinders van die Wind-beurs, ten einde die beurs te laat groei sodat soveel moontlik studente uiteindelik hiermee gehelp kan word. Mense wat ʼn bydrae tot die Kinders van die Wind-beurs wil maak, kan ʼn e-pos stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.