Waarheen is Stellenbosch-bib se Afrikaanse boeke?

Die plaaslike owerheid sê wanneer boeke van die rakke verwyder word, word dit óf na ander biblioteke in die Wes-Kaap versprei, óf dit word geskenk aan nieregeringsorganisasies of skole. (Foto ter illustrasie: Maroela Media)

Daar is hoegenaamd nie sprake daarvan dat die Stellenbosch-munisipaliteit besig is met geteikende pogings om van ouer Afrikaanse boeke ontslae te raak nie.

“Ons biblioteekdienste, net soos wat die praktyk is by enige private biblioteek, moet af en toe ontslae raak van ouer boeke wat vervang word met nuwe literatuur, asook nuwe eksemplare van ouer literatuur,” sê Stuart Grobbelaar, munisipale woordvoerder.

“Dít sluit Afrikaanse, Engelse en Xhosa-boeke – fiksie én niefiksie – in.”

Die munisipaliteit het gereageer ná kommer deur biblioteekgebruikers dat al hoe meer boeke – spesifiek Afrikaanse titels – van die biblioteekrakke verdwyn.

“Ons het die afgelope maand begin agterkom dat van die ouer Afrikaanse boeke begin verdwyn,” het ʼn bekommerde leser aan Maroela Media gesê.

“Dit sluit besonderse Afrikana in soos werke deur onder andere FA Venter, Anna M Louw, Karel Schoeman, Dalene Matthee en Karl Kielblock. Dit lyk asof die biblioteek moontlik ʼn nuwe beleid het om alle boeke met ‘geel bladsye’ uit sirkulasie te haal.

“Dit is eenvoudig onaanvaarbaar om Afrikaanse kultuurgeskiedenis op so ʼn manier ‘uit te wis’, veral in die lig daarvan dat die meeste van die boeke waarmee skynbaar weggedoen word reeds uit druk is en juis slegs beskikbaar is in ‘veilige hawens’ soos biblioteke.”

Grobbelaar sê die plaaslike owerheid bedryf nege openbare biblioteke in die munisipale gebied en wanneer boeke van die rakke verwyder word, word dit óf na ander biblioteke in die Wes-Kaap versprei, óf dit word geskenk aan nieregeringsorganisasies of skole.

“Afrikaanse boeke word beslis nie verwyder nie.

“Inteendeel, heelwat Afrikaanse boeke word op ʼn gereelde grondslag vanaf die provinsie aangevra. Ons biblioteekdienste moet op ʼn maandelikse grondslag nuwe bestelvorms aan die provinsie verskaf en hierdie lyste sluit byna altyd nuwe, asook ouer Afrikaanse titels in, na gelang van wat beskikbaar is en waarna daar ʼn groot aanvraag is,” sê Grobbelaar.

Die leser het ook sy diepe kommer te kenne gegee oor die vermoede dat die verwydering van die boeke ʼn poging is om die Afrikaanse kultuurerfenis te onderdruk.

Grobbelaar sê hierop die biblioteekdiens is meer as bereid om inwoners te help om ʼn spesifieke boek wat hy nie by een biblioteek kan opspoor nie, van ʼn ander te laat kom.

“Daar is ook heelwat Afrikana-boeke wat waardevolle Afrikaanse boeke insluit, wat in die biblioteek bewaar word vir inwoners, maar nie op die rakke verskyn nie – juis omdat die munisipaliteit hierdie waardevolle items wil bewaar. Hierdie boeke kan steeds deur enige inwoner gelees of uitgeneem word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pierre ·

Biblioteek bestaan die nog, ek was dekades laas terug in een nog voor die dae van die internet,

Jannie van Niekerk ·

Iemand lieg en ons weet almal dat dit die Stellenboch munisipaliteit is.

Estelle ·

Mnr Grobbelaar, ek verstaan glad nie jou redenasie nie . Julle haal die Afrikaanse boeke van julle rakke af, maar is “meer as bereid” om dit van ander biblioteke op aanvraag aan te vra. Nou waarom dit in die eerste plek verwyder? Ek dink eeder julle hoop dat die Afrikaanse boeke word nie aangevra nie, dan “verdwyn” dit maar net ongesiens in die sisteem.

Samuel ·

Wel, wat by die Stellenbosch biblioteek gebeur, gebeur beslis in die Tableview biblioteek.

Lizelle ·

Mnr Grobbelaar, miskien moet jy self ‘n draai in die biblioteek gaan maak. Die Afrikaanse tienerafdeling is letterlike gehalveer en al die vermiste titels is ou Afrikaanse boeke. Dit in ‘n tyd wat dit lankal nie meer moontlik is om interbiblioteek lenings te maak nie. Dit is immers sedert die aanvang van covid nie meer moontlik om so boeke van ander biblioteke of selfs die argief aan te vra nie. Net ‘n paar weke terug het die biblioteek my weer ingelig dat ek nie die boeke wat ek benodig het kan aanvra uit die argief (of van ‘n ander Weskaap biblioteek nie). Een van die boeke wat ek benodig het moes ek dus uit die VSA bestel. Dit is belaglik, siende dat die boek net in ‘n donker hoek in die argief lê en stof opgaar.

Al die vermiste titels is ou Afrikana wat meestal slegs nog in biblioteke beskikbaar is. Dit is boeke wat steeds gelees word. Die een titel het ons gesin net laas jaar nog uitgeneem en ander wat op ons leeslys vir die jaar was is nou bloot net nie meer beskikbaar nie.

Swerwer ·

Waarom ou betekenisvolle literatuur met nuwe literatuur vervang wat nie waarde in ons Afrikaanse Kultuurgeskiedenis vir ons inhou nie. Alles van waarde word weggeneem.

Janine ·

So vat die huidige regering ALLES. Ons voorouers wat ALLES opgebou het, word grondstelers genoem. Niemand noem dat dit al hul harde werk was wat SA opgebou het nie. Skande!

Henk ·

As julle dink dit gaan daar rof, kom kyk in die Vrystaat wat is biblioteke wat verwaarloos is!

Nierkie ·

Ek mag dalk sinies wees, maar ek sukkel om enigiets te glo wat hier gesê word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.