Waarheen mik ons munisipaliteite?

(Argieffoto: Steve Buissinne/pixabay)

Munisipaliteite kan die gemeenskap doeltreffend dien, mits bekwame mense in die regte poste aangestel word om kapasiteit te verbeter, korrupsie ʼn nekslag toegedien word en konsekwensiebestuur doeltreffend gedoen word. Verder moet daar ʼn politieke wil wees om administrasie doeltreffend te doen en mense met ʼn sake-oog eerder as ʼn politieke agenda moet by plaaslike bestuur betrek word.

Só meen ʼn paneel van kundiges en belanghebbendes wat Donderdag ʼn dinkskrum gehou het oor die toestand van plaaslike regering. Die Noordwes-Universiteit se sakeskool het die gesprek gefasiliteer.

Vrae soos hoe gemeenskappe volhoubaar deur munisipaliteite bestuur kan word, of provinsiale rade hul rol en verantwoordelikheid reg verstaan, of daar vaardige en bekwame mense in die regte poste aangestel word, en of die verhouding tussen plaaslike regerings en sakelui problematies is, is op die tafel geplaas.

Die stelsel van plaaslike regering is 25 jaar oud – watter lesse is in hierdie kwarteeu geleer? Volgens China Dodovu van die Nasionale Raad van Provinsies is plaaslike regering een van die mees komplekse projekte van die nuwe demokrasie.

“Talle mense sê dit is die swakste skakel in die bestuursketting en dat dit die transformasieprojek van die land verswak. Die regering het al talle intervensies probeer wat nie werklik gewerk het nie. Die voordeel is dat ons nou wyser is en dat ons ʼn beter begrip het vir die uitdagings wat ons in die gesig staar,” sê hy.

Intervensies soos om artikel 139 van die Grondwet te implementeer, waarvolgens ʼn munisipaliteit onder andere onder administrasie geplaas kan word, word dikwels deur die nege provinsiale regerings toegepas. Dodovu meen dat dit slegs ʼn oplossing is as alle ander moontlike maatreëls uitgeput is.

“Provinsiale regerings vervul nie altyd hul rol van ondersteuning, kapasiteitversterking en monitering voordat die drastiese stap van intervensie geneem word nie. Daar is geen vroeë waarskuwingstelsel nie en artikel 139 word nie korrek toegepas nie.”

Verder word probleme veralgemeen, eerder as dat uitdagings spesifiek aangepak en opgelos word. Intervensie word ʼn magspel vir provinsiale regerings en hulle stel nie bekwame mense met kundigheid aan om ʼn munisipaliteit se spesifieke probleme op te los nie. Probleme word ook dikwels verkeerd gediagnoseer en daarom nie opgelos nie, voeg Dodovu by.

Hy stel drie stappe voor waarvolgens munisipaliteite se probleme doeltreffend hanteer kan word. “Eerstens moet daar konsekwensiebestuur wees – diegene wat steel, moet in hegtenis geneem word, dié wat korrup is, moet in die pad gesteek word. Tweedens moet bekwame komitees aangestel word vir monitering en oorsig, sodat amptenare verantwoordelik en verantwoordbaar gehou kan word. Derdens moet die belangrike rolspelers in die munisipaliteit met kennis en vaardighede bemagtig word om eties en verantwoordelik op te tree.”

Dodovu glo daar is ʼn leemte vir wetgewing wat eenvormigheid verseker omdat elke provinsie tans dinge op hul eie manier doen. Om hierdie doel te bereik ondersteun hy die distriksontwikkelingsmodel. Hy glo distriksrade kan help om stabiliteit in munisipaliteite te verseker.

Voormalige munisipale bestuurder van Potchefstroom, Radinaledi Mosiane, wys uit dat Suid-Afrika se regeringstelsel vervleg is en net een vlak daarom nie alleen die skuld vir probleme kan dra nie. “Munisipaliteite se probleem lê grootliks by die skakeling tussen plaaslike, provinsiale en nasionale regering, omdat dit nie doeltreffend plaasvind nie en magte op die verkeerde gronde toegeken word. Plaaslike regering kry ook weinig hulpbronne vir al die verantwoordelikhede wat hulle opgelê word. Nasionale en provinsiale regering behoort plaaslike munisipaliteite beter by te staan.”

Mosiane voeg by dat ʼn tekort aan kapasiteit op al drie regeringsvlakke ʼn probleem is, grootliks omdat talle bekwame menslike hulpbronne die regeringsdiens verlaat het.

Ben Deysel van Harrismith se sakeforum, wat vir jare reeds saam met ander sakelui probeer om die swak omstandighede van sy plaaslike munisipaliteit om te keer, glo dat politici hulle by die politiek moet hou en die bestuur van administrasie eerder aan professionele mense en gewillige, bekwame inwoners moet oorlaat.

“Die agteruitgang van dienste en infrastruktuur op Harrismith is skokkend. Dit skrik besighede af, wat eerder elders groener weivelde gaan soek. Omdat besighede die dorp verlaat, verhoog die werkloosheid, wat reeds op 70% staan. Ongeveer 18 000 inwoners kan nie vir ʼn miljoen werkloses sorg nie,” sê hy.

Sy aanbeveling is dat munisipaliteite eerder verklein moet word en deur bekwame plaaslike mense met direkte beheer bestuur moet word. Die manier waarop plaaslike rade tans verkies word, is nie bevorderlik vir finansiële of administratiewe vooruitgang nie. Volgens sy ervaring word administratiewe kwessies maklik verpolitiseer, wat dienslewering in ʼn doodloopstraat afstuur.

Kommunikasie tussen die verskillende vlakke van regering kan ook verbeter, veral nasionale en plaaslike regerings, meen Deysel. “ʼn Nuwe model en struktuur is nodig op plaaslike vlak. Kleiner rade wat gefokus werk, sal meer doeltreffend wees, selfs al vorm daar dan weer 700 of 800 munisipaliteite, soos vroeër jare.”

Volgens Darkey Africa, voorsitter van Noordwes se beplanningskommissie, kan plaaslike regering reggeruk word, mits sakelui, die gemeenskap en kundiges saam werk. Hy sluit by die meerderheid van deelnemers se mening aan: dat die grootste swakheid by munisipaliteite ʼn tekort aan kapasiteit is, veral mense wat verantwoordelikhede gegee word wat hulle nie kan nakom nie as gevolg van ʼn vaardigheidstekort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Nie Verbaas ·

Ek twyfel sterk of ANC bekwame mense het wat besigheid verstaan of om korrupsie die nekslag toe te dien.

Piet ·

Die meeste regdenkende mense weet dit, maar die ANC sal dit nooit toelaat of self doen nie.

Gawie ·

Dit is vandat die politieke partye die plaaslike owerhede begin bestuur het wat dinge so versleg het. Ons moet dit verbied en terug gaan na belastingbetaalersverenings en dies meer soos in die ou dae

Jakes ·

Met ander woorde beteken dit dat munisipalteite van meet af onbevoegde mense aangestel het en dat dit nou eers na 26 jaar besef word terwyl dit reeds so vroeg as 1995 bewys is.

johanf ·

Die bekwame/kundiges, is uitgewerk, psigies gebroke, oorlaai met beperkte onbekwame werkers, deur ALLE Politiek beheerde Rade, Publiek kom eerste, Politiek moet nie eers in ń raadsaal geopper word nie, maar die vergoeding van ń raadslid, sit oogklappe aan……

4ntj13 ·

Munisipaliteite, nes provinsiale en nasionale regerings, is eerder geldbronne vir ANC-comrades wat alle beskikbare geld as “bestuurders” opvreet, terwyl hulle nie eens ʼn vuurhoutjieboksie kan bestuur nie! Voordat daar nie konsekwensies is vir alle bestuurders se bestuurders nie, kan mens verwag dit sal voortduur. Covid het gewys dis vrot bo uit.

Nico ·

Wanneer jy gaan om navraag te doen sit die amptenare met die selfoon en speel wat bewys daar is geen belangstelling nie hulle is net daar om ‘n salaris te ontvang.

OW ·

Daar is baie redes hoekom munisipaliteite vandag in die swak toestand is.Gebrek aan bestuur deur bekwame mense bly een van die hoof redes.Na mening is die vorige bedeling bestuursfunksies hier in die omgewing van 2001 finaal afgeskaf en ploeter dit vandag nog voort.Jong mense wat begin werk na studie word nie opgelei in die werksprosesse nie en geen beheer word uitgeoefen in die bestuur van nuwe werknemers nie.As bestuursfunksies afgeskaf word kan daar verwag word dat dienste verswak sal word.Die primêre funksies van munisipaliteite bly dienslewering en solank dit vervleg word met politiek sal die probleme bly voortbestaan.

Casper ·

Nou wonder ek.Munisilaliteite skuld escom 31 miljard rand.Munisipaliteite maak van konsultante gebruik om rekeninge te verwerk buitenaporige hoë heffings word gehef net om meer geld in te samel en later verdwyn dit weer.Werk transformasie regtig,hoegenaamd nie.

Tanja ·

Aai sis tog, en dit het hulle 26jaar geneem om dit te besef

Frans ·

Dit word van amptenare verwag om gekwalifiseerd in hul beroepe te wees en oor voldoende ondervinding te beskik.Dit is nie die geval nie en kry kader aanstellings nog steeds voorkeur.

Enige persoon kan homself beskikbaar stel om verkies te word ,mits hy voldoende steun ontvang om as raadslid te dien.So kry jy onopgeleide -ongekwalifiseerde persone wat rade moet bestuur.Omdat hul nie oor die nodige ondervinding of kwalifikasies beskik nie,is hul ook nie instaat om sake wat vir goedkeuring voorgelê te beoordeel nie.Die gevolg is dat amptenare in beheer van Departemente slordige of onvolledige verslae vir goedkeuring voorlê en omdat die meeste munisipalteite deur ploitieke partye beheer word,word die verslae eenvoudig deur rade gestoomroller en is korrupsie aan die orde van die dag.
Die oplossing is dus dat alvorens jy ‘n raadslid kan word oor die nodige ondervinding /kwalifikasie moet beskik en dat tenmiste daar een so’n raadslid vir elke funksie van die munisipaliteit moet wees.

Johan ·

Die foto hierbo is van ‘n hp sakrekenaar van diè 1980’s, die tyd toe munisipaliteite nog gewerk het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.