Waarnemende hoof van Staatsdrukkery meng glo in by ondersoek

Argieffoto: SAPD

Alinah Fosi, die waarnemende uitvoerende hoof van die Staatsdrukkery, het glo probeer om by die polisie se ondersoek in te meng nadat strafregtelike klagte vandeesweek teen haar aanhangig gemaak is.

Die klagte hou verband met bewerings van korrupsie, viktimisering en inmenging in die verskaffingsketting van die Staatsdrukkery – kwessies wat onlangs deur ’n fluitjieblaser aan die groot klok gehang is.

Adrian Roos, DA-LP en lid van die portefeuljekomitee oor binnelandse sake, het Vrydag gesê die opposisieparty is betroubaar ingelig dat Fosi Donderdag glo dokumente wat verband hou met bewerings van korrupsie en inmenging in die verskaffingsketting aangevra het.

Volgens Roos het die DA hierdie inligting onder die ondersoekbeampte se aandag gebring en gevra dat daar dringend ingegryp word. “Indien dit die geval is, moet hierdie moontlike inmenging dringend aandag kry.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn bewering van onreëlmatigheid in die verskaffingsketting by die Staatsdrukkery is reeds voorheen deur die Staatsdienskommissie (SDK) ondersoek. Fosi is toe skuldig bevind aan die onreëlmatigheid hoewel sy vrygespreek is van bewerings dat sy onwettige opdragte gegee het.

Die DA het reeds versoek dat Fosi geskors word terwyl die jongste bewerings ondersoek word weens die aard van die bewerings wat die boelie en viktimisering van personeel insluit.

“As die ANC-regering ernstig is oor die bekamping van korrupsie, sal hy dadelik optree om hierdie bewerings te verifieer om moontlike inmenging in enige ondersoek te vermy.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Stofdonkie ·

Mens kan maar net weer wonder van wie sy familie is… Met die klomp anc is daar mos maar altyd ‘n verbintenis tussen die steler en ministerie

JohanR ·

April 2021 : Shamila Batohi het vandag aangekondig dat die staat is bly dat hulle die saak teen Alinah Fosi, die waarnemende uitvoerende hoof van die Staatsdrukkery gewen het, en dat sy 5 jaar se tronk straf op gele is. Batohi het ook verder gese dat daar is geen plek in Suid Afrika vir sulke opdrag wat Fosi betoon het. En toe skrik ek wakker uit my REM slaap!

marius ·

Staatsdrukkery . Ook omskrywing vir diegene wat benewens buitensporige vergoeding vir geen dienste gelewer steeds staatsgeld in hul sakke druk .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.