Waarnemende hoof van Staatsdrukkery van korrupsie verkla

Argieffoto: SAPD

Die DA het Woensdag strafregtelike klagte teen die waarnemende uitvoerende hoof van die Staatsdrukkery aanhangig gemaak.

Bongisa Mhaga, woordvoerder van die DA, het in ʼn verklaring gesê Adrian Roos, DA-LP en lid van die portefeuljekomitee oor binnelandse sake, het vanoggend strafregtelike aanklagte teen Alinah Fosi by die polisiestasie in die Pretoriase middestad aanhangig gemaak.

Die aanklagte hou verband met bewerings van korrupsie, viktimisering en inmenging in die verskaffingsketting van die Staatsdrukkery – kwessies wat onlangs deur ’n fluitjieblaser aan die lig gebring is.

Volgens Mhaga is ʼn bewering van onreëlmatigheid in die verskaffingsketting by die Staatsdrukkery reeds voorheen deur die Staatsdienskommissie (PSC) ondersoek. Fosi is toe skuldig bevind aan die onreëlmatigheid hoewel sy vrygespreek is van bewerings dat sy onwettige opdragte gegee het.

Hoewel die bewyse dat sodanige opdragte wel gegee is beskikbaar is, het die hoofnavorser van die PSC aangedui dat sy nie toegang daartoe het nie. Dié is ʼn voormalige kollega van Fosi.

“Die minister van binnelandse sake, Aaron Motsoaledi, het ook bewerings van onbehoorlike invloed in Fosi se aanstelling as permanente uitvoerende hoof van die Staatsdrukkery na die Valke verwys,” lui die verklaring.

“Ander bewerings is egter steeds nie ondersoek nie, ondanks ʼn aanbeveling van die parlementêre regsadviseurs aan die portefeuljekomitee vir binnelandse sake om alle bewerings na die PSC te verwys vir ondersoek.”

Volgens Mhaga het die DA geen persoonlike vendetta teen Fosi nie. Daarby het parlementslede ʼn wetlike plig ingevolge die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede om bewerings van korrupsie wat onder hul aandag gebring word, aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Strandloper ·

Ooooo….hy het maar net dieselfde gedoen as die res van die staatsdiens….amper gedink hy het sy eie geld gedruk….

Elize ·

@ Strandloper. Nie almal in die staatsdiens is korrup nie hoor. Dit is wel goeie nuus dat die vrot appels nou begin les opsê

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.