Waarnemende minister in Mthembu se amp aangestel

Minister Khumbudzo Ntshavheni. Foto: Flickr/GovernmentZA

Pres. Cyril Ramaphosa het die minister van kleinsakeontwikkeling, Khumbudzo Ntshavheni, as waarnemende minister in die presidensie aangestel na minister Jackson Mthembu se onlangse afsterwe.

Die presidensie het Woensdag in ’n verklaring gesê Ntshavheni sal tot verdere kennisgewing verantwoordelik wees vir beplanning, monitering en evaluering in die presidensie.

“Hierdie aanstelling, ingevolge artikel 98 van die Grondwet, volg op die afsterwe van die minister in die presidensie, Jackson Mthembu, verlede Donderdag weens komplikasies wat verband hou met Covid-19.

“Minister Ntshavheni sal voortgaan om haar verantwoordelikhede as minister van kleinsake-ontwikkeling uit te voer terwyl sy as minister in die presidensie dien,” lui die verklaring.

Maroela Media het vroeër berig Mthembu is die afgelope naweek tydens ʼn staatsbegrafnis in eMalahleni ter ruste gelê.

Mthembu het tussen 2016 en 2019 as hoofsweep van die ANC in die Nasionale Vergadering gedien waarna hy na die nasionale verkiesing in 2019 as die minister in die presidensie aangestel is.

Ramaphosa het Mthembu as “ ’n voorbeeldige leier, ’n aktivis en lewenslange kampvegter van vryheid en demokrasie” bestempel.

“Hy was ’n baie geliefde en baie gerespekteerde kollega en kameraad, wie se heengaan ons land met ’n groot verlies laat,” het die president kort na Mthembu se dood gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Oe my gooiste! Lyk soos nog’n Lindiwe Zulu of Carl Niehaus.

Hennie

Nog nooit van die agbare lid gehoor nie.

Stephan

O gat patat! Hier kom ‘n nuwe sirkus.