‘Waarnemende NVG-hoof sal homself nou moet bewys’

Dr. Silas Ramaite. Foto: ANA.

Die pas aangestelde waarnemende hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), dr. Silas Ramaite, sal moet bewys dat hy selfstandig kan optree en dat hy nie gekontamineer is deur sy termyn as adjunk vir die gediskrediteerde adv. Shaun Abrahams, vorige hoof van die NVG nie.

Só het dr. Corné Mulder, hoofsweep en parlementêre woordvoerder van die VF Plus, gesê.

“Die vinnige optrede van pres. Cyril Ramaphosa om ʼn waarnemende hoof aan te stel, moet verwelkom word.”

Mulder meen egter dit is nogtans betreurenswaardig dat die president nie ʼn persoon aangestel het wat geen bagasie van die NVG saamdra nie.

Ramaite is sedert 2003 die adjunk- nasionale direkteur vir openbare vervolging.

Glynnis Breytenbach van die DA het gesê Ramaphosa se aanstelling van Raimate as die nuwe waarnemende hoof van die NVG “voorspel niks goed vir die herstel van die onafhanklikheid van die NVG nie”.

Mulder meen Ramaite is goed onderlê in die reg en spog met verskeie regsgrade. Hy is in 1988 as advokaat toegelaat tot die balie van die hooggeregshof en in 2001 aangewys as senior advokaat.

“Die pluspunte vir dr. Ramaite is dat hy ʼn hoogs gekwalifiseerde regsgeleerde en advokaat is met 15 jaar ervaring by die NVG. Terselfdertyd sal sy termyn oor die laaste jare by die NVG die kollig fel op dr. Ramaite laat skyn en hy sal ʼn groot taak op hande hê om die geloofwaardigheid in die kantoor van die NVG te herstel en te wys dat hy nie deur ʼn politieke poppemeester beheer word nie,” het Mulder gesê.

Die ANC het Ramaite se aanstelling intussen verwelkom.

ʼn Permanente aanstelling moet binne 90 dae gedoen word.

Maroela Media het vroeër berig die konstitusionele hof het Maandag beslis die verwydering van Mxolisi Nxasana as hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) was ongrondwetlik en dat die aanstelling van Abrahams in sy plek ook ongrondwetlik was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

Verskaf asb die lang lys van regsgrade en tesis-detail en waar dit behaal is en wanneer. Dis ons reg om te weet. Waar kom die doktor vandaan en wie is sy naaste? Hoe oud is die geagte burger met die baie kennis en ervaring?

Joshua ·

Kla Abrahams aan, dis “gekookde’ en afgewaterde dossiere deur hom georganiseer en gesupervise dat sy pelle soos Zuma, Guptas vry gaan loop tesame met hul korrupte diewe van Eskom, SAL, Transnet, dai Limpopo Bank, Denel, Prasa, GEPF se PIC korrup managers, Eskom, Treasury en nog vele meel- sluit hulle almaal toe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.