Waarnemende Prasa-hoof sê oor 350%-verhoging

Die bevestiging van Collins Letsoalo se vergoeding (Foto: @SAgovnews, Twitter)

Die bevestiging van Collins Letsoalo se vergoeding (Foto: @SAgovnews, Twitter)

Die waarnemende uitvoerende hoof van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) ontken bewerings dat hy ʼn yslike salarisverhoging of voordele geëis het waarop hy nie kan aanspraak maak nie.

Volgens ʼn artikel in die Sunday Times die afgelope naweek het Collins Letsoalo, wat na Prasa gebring is as “Mr Fix-It”, se salaris met 350% verhoog van R1,3 miljoen tot R5,9 miljoen. Hy het ook ʼn chauffeur en ʼn maatskappyselfoon met onbeperkte oproepe geëis, net soos sy voormalige hoof Lucky Montana.

Montana is in Julie 2015 afgedank ná veroordelende bevindings deur die openbare beskermer wat hom impliseer in beweerde korrupsie en wanadministrasie wat verband hou met tenders ter waarde van miljarde rand.

Dipuo Peters, minister van vervoer, het Letsoalo in Julie verlede jaar aangestel om die agentskap se finansies om te keer nadat dit R13,9 miljard weens onreëlmatige kontrakte verloor het.

Die Sunday Times het berig Peters het ʼn brief aan Letsoalo en Prasa-voorsitter Popo Molefe gesê, en dit duidelik gemaak dat Letsoalo se pakket van R1,3 miljoen van die departement van vervoer nie verander sal word nie, maar ʼn 12% “waarnemende toelaag” sal kry.

Letsoalo het egter sy aanstellingsbrief vrygestel, wat bevestig dat hy geregtig is op die voordele van die amp van die uitvoerende hoof terwyl hy in die posisie waarneem.

Onder “vergoeding en voordele” lui die brief: “Tydens die dienstydperk as uitvoerende groepshoof, sal Prasa aan jou die jaarlikse salaris betaal wat op dié posisie van toepassing is en kragtens die toepaslike vergoedingsbeleid. Jy is geregtig om alle voordele te ontvang wat van toepassing is op hierdie posisie en die Prasa- senior beamptes.”

Letsoalo meen die Sunday Times wil die werk ondermyn wat hy doen. “Ons het my aanstellingsbrief aan hulle verskaf, maar hulle het gekies om dit te ignoreer. Terloops, ek was vier maande lank by Prasa sonder om ʼn salaris te ontvang.”

Hy het ook die Sunday Times se bewering, dat hy Bhekani Khumalo, die uitvoerende hoof van menslike kapitaal, afgedank het nadat hy geweier het om aan sy eise te voldoen, van die hand gewys. “Dit is nie waar dat Bhekani Khumalo afgedank is nie. Hy werk nog steeds vir Prasa,” het Letsoalo gesê.

Bongani Nkomo, algemene bestuurder vir vergoeding en voordele, het in ʼn brief gedateer 26 Oktober bevestig “die jaarlikse vergoedingspakket vir die Prasa uitvoerende groepshoof beloop R5 985 140-07”.

Letsoalo het gesê die bewerings teen hom is die begin van ʼn media-aanslag en hy is bewus van die mense wat daaragter sit, maar hy het geweier om hulle name bekend te maak. “Ek is bewus daarvan dat hierdie die begin van ʼn media-aanslag is. Daar is reeds drie artikels wat reeds gereed lê. Daar is een wat eerskomende Sondag kom en dan nog een die Sondag daarna. Dit kom van ʼn onheilige alliansie tussen diegene wat Prasa wil destabiliseer en dit lyk of dit die media is.”

Hy het gesê hy is teleurgesteld met die tipe joernalistiek in die naweekkoerant se storie, en meen dit doen ʼn onreg aan die goeie werk van verslaggewers landswyd. Hy eis dat die Sunday Times ʼn verskoning “in vetdruk letters op die voorblad moet druk, nie op die vierde bladsy nie”. “Ek moet nog besluit of ek die persombudsman hieroor gaan nader of ʼn laster-eis teen hulle gaan bring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Paul ·

As hy ‘n sekere vergoedingspakket beloof is op skrif toe hy aangestel is, dan moet hy dit tog kry. Nes enigiemand anders.

AL ·

Hy is afgedank. Lyk of hy homself regte toe- eien. R1,3 miljoen is vir hom peanuts terwyl soveel mense wat sal gee om so n salaris te verdien.

Kay ·

AS dit nie so is nie sal mens dit mos in sy bankrekeninge kan sien … ek weet nie wat keer hy so nie – … hy is dan juis aangestel om die ander op te check ? Nou skep hy ook …. nee geen salf gesmeer meer nie

Johann ·

Skep die staatskaste skaamteloos leeg…seker n bonus aan ons “agbare” Minister aangee vir sy pos?

Annie ·

Wat regverdig so n salaris … dit is die blatant steel… terwyl ander van R1400 moet leef …. get REAL!!!!!

C op C ·

Dit lyk nie vir my of daar nog iets soos verantwoordbaarheid by die onderskeie ministeries bestaan nie. As daar probleem ontstaan skerm elkeen net vir sy eie posisie en belange.

cc ·

En so loop die verarmde spoorweg pensionarisse se geld uit en niemand doen iets daaraan nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.