Waarnemende premier in Noordwes aangestel

Premier Supra Mahumapelo. Foto: ANA

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes, sal dalk nie nou uit sy amp bedank soos hy Dinsdag aangevoer het nie, maar hy is wel tans met verpligte verlof.

Sussana Dantjie, waarnemende provinsiale sekretaris van die ANC, het gesê die provinsiale uitvoerende komitee het Mahumapelo opdrag gegee om met verlof te gaan. “Ons het as die uitvoerende komitee besluit dat hy met verlof moet gaan en dat ʼn waarnemende premier aangestel moet word. Ons sal dit van daar af verder voer. Ons het nie ʼn tydsraamwerk hieroor vasgestel oor presies wanneer hy dit moet doen nie. Ons wag om van hom te hoor.”

Mahumapelo het egter nie lank geneem om oor dié verpligte verlof te besluit nie en Wendy Nelson, die Noordwes-LUR vir finansies, ekonomiese en ondernemingsontwikkeling, is Woensdagaand as waarnemende premier van die provinsie aangestel.

Die ANC se uitvoerende komitee in Noordwes het egter beklemtoon dat Mahumapelo steeds premier is en dat Nelson slegs waarneem terwyl Mahumapelo met verlof is.

Die DA het dié aanstelling van Nelson as skokkend bestempel. “LUR Nelson het haar vermoë in die departement van finansies en ondernemingsontwikkeling ten toon gestel waar sy heeltemal misluk het. Daar is geen vertroue in haar integriteit nie, aangesien sy ʼn openlike ondersteuner en bondgenoot van Supra is. Albei was in Dubai op ʼn onverklaarde reis wat betaal is met belastingbetalers se geld,” het Joe McGluwa, provinsiale leier van die DA, gesê.

Die ANC moes dan ook sy amptelike verklaring wat hy Dinsdagaand uitgereik het om Mahumapelo se bedanking te verwelkom, terugtrek. Dantjie het verduidelik dat die ANC-leierskap besluit het om Mahumapelo “as premier te ontplooi” en dat hy daarom nie uit dié pos kan bedank sonder die partyleierskap se goedkeuring nie.

“Dit is daarom dat die provinsiale uitvoerende komitee besluit het om Dinsdagaand se verklaring terug te trek. Ons vra om verskoning vir die ongerief wat die verklaring veroorsaak het. Ons moes eintlik gewag het totdat die uitvoerende komitee vergader het, soos hulle vandag [Woensdag] gedoen het,” het Dantjie gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

ANC- musical chairs. Net ‘n lekker vakansie. Is boetie al gekwalifiseerd? Dan vlieg ons weg na ons-weet-waar en as almal se go uit is van al die remoer, vat ek weer oor, want niemand kan my uit die stoel lig nie… te lekker. Ons het ‘n wonderlike grondwet verseker, want mens wonder waar was sekere mense wat toe daar moes wees om seker te maak dat misdrywiges nie sou kan forever nie, soos wat nou blykbaar orals wil-wil… tot in die Kaap.
Ons het ‘n demokrasie in die ware sin: Een lot demon-streer en die ander blink-auto-krasie laat dit klap. Ja, dinge verander ten goede in ons land met CR wat klokslag soggens teen hanekraai pilatus-oefeninge doen; en alles verbasend genoeg hulself daarna bestuur….

jaco ·

Wendy Nelson is sowaar ‘n Kleurling; nie African Black nie. Ek weet haar aanstelling is net tydelik, maar reflekteer dit die “nasionale demografie”? Dis alles goed wat die ANC-regering sê. Ek suig dit nie uit my duim nie. Talle kleurlinge en Indiërs wat werk soek hoor gereeld’ sorry no job for you, because you are not black enough”.

Anon ·

Natuurlik as Mahumapelo bedank trek hy nie meer salaris nie. Daarteenoor kan hy nou nog lekker geld verdien terwyl hy op “verpligte verlof” geplaas word. Baie slim mnr Mahumapelo, baie slim!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.