Waarnemende Valke-hoof wil Gauteng-hoof laat aankla

hawks valkeBerning Ntlemeza, waarnemende hoof van die Valke, voer in hofdokumente aan dat die geskorste hoof van die Valke in Gauteng van ontvoering en regsverydeling aangekla moet word, het The Star berig.

Ntlemeza voer in ʼn beëdigde verklaring aan dat daar ʼn prima facie-saak teen Shadrack Sibiya sowel as Anwa Dramat, geskorste hoof van die Valke, is.

Volgens Ntlemeza moet Sibiya en Dramat antwoorde verskaf oor die uitlewerings van Zimbabwiërs in 2010, wat die amptelike rede vir hul skorsing is. ”

Ntlemeza appelleer teen ʼn hofbeslissing dat Sibiya se skorsing onwettig was. Die hof het gesê die besluit om hom te skors is in kwader trou geneem aangesien die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) en die Valke bevind het dat Sibiya nie betrokke was by die onwettige uitlewerings van Zimbabwiërs nie.

Volgens Ntlemeza is daar egter “ontstellende bevindings” in regter Elias Matojane se uitspraak.

Vyf mans is glo in 2010 onwettig na Zimbabwe uitgelewer. Die behoorlike prosedures is glo nie gevolg nie en twee van die mans is glo deur die Zimbabwiese polisie vermoor.

Opod het in ʼn konsepverslag bevind dat die Dramat en Sibiya direk by die uitlewering betrokke was. Volgens die finale verslag het hulle egter niks verkeerd gedoen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.