‘Waarom was Shaun Abrahams by Luthuli-huis?’

Adv. Shaun Abrahams, die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG). Foto: Flickr/GovernmentZA

Adv. Shaun Abrahams, die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG). Foto: Flickr/GovernmentZA

“Dit is totaal onaanvaarbaar dat adv. Shaun Abrahams enigsins na Luthuli-huis moes gaan om die vervolging van die minister van finansies met die ANC te bespreek.”

Dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus, meen dit is onaanvaarbaar aangesien dit die plek is waar die ANC politieke besluite neem. Mulder het gister tydens die debat oor die gevolge van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se besluite op die ekonomie ook gesê dit is belaglik om ʼn dringende parlementêre debat van nasionale openbare belang soos dié eers twee weke nadat dit versoek is, te bespreek, en dit boonop laat in die middag.

Hy het gesê die aangeleentheid moes twee weke gelede gedebatteer gewees het toe dit die groot openbare besprekingspunt was.

“Die ANC het nou hier gesê hulle staan die onafhanklikheid van die NVG voor. Dit is nie waar nie. Op 4 November hierdie jaar, nadat die ANC Abrahams, hoof van die NVG, na Luthuli-huis ontbied het, het ʼn ANC-lid in die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie gesê daar is niks daarmee verkeerd dat die NVG-hoof Luthuli-huis besoek nie. Sy het gesê die doel van die NVG is om die ANC se mandaat as regerende party uit te voer. Nou kom die ANC hier en sê hy respekteer die NVG se onafhanklikheid. Dit is nie waar nie.”

Volgens Mulder probeer die ANC almal nou oortuig om nie sleg te praat oor Suid-Afrika nie en om saam as ʼn span te trek in belang van die land en om nie beleggers af te skrik nie.

“Daar is egter geen slegter manier om die land se naam te beswadder as om die minister van finansies op opgemaakte en vals klagte aan te kla en daardie boodskap die wêreld in te stuur nie. Voordat die minister van finansies aangekla word, moet jy ʼn miljoen persent seker wees van jou saak, nie net ʼn honderd persent nie. Nadat die direkteur van die NVG aanvanklik gesê het daar is bewyse om die minister aan te kla, moes hy drie weke later op vernederende wyse die klagte terugtrek.”

Mulder het gesê die hele aangeleentheid was ʼn tragiese vergryp van die reg. “Waarom moes Abrahams na Luthuli-huis gaan waar politieke besluite deur die regerende party geneem word? Dit is totaal onaanvaarbaar. Die NVG mag nie daar naby gesien word nie. Dit is duidelik dat die ANC die NVG misbruik en dit kan nie toegelaat word nie,” het Mulder gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Maria Van Dieweeck ·

Hoe langer hierdie nes saambroei, hoe erger word die verdraaisels wat hul wil opdis! Soms is dit soos feeverhale! Erens, erens gaan hierdie monster moet omfoeter en hoe gouer, hoe beter.

Maria Van Dieweeck ·

Het mnr Advokaat dan nie eers gese hy was maar net Luthuli huis om ‘#feesmustfall’ sekuritetsaspekte te bespreek nie? Ja, en net daarna het die goeie feetjie verby gevlieg.

Justice ·

Abrahams sal dit seker in sy vertoee noem om nie geskors te word nie.

Japie ·

Ons almal weet hoekom hy na Luthuli – huis toe is. Die anc dink alle Suid-Afrikaners dom en kan nie vir hulself dink nie.

Verıtas ·

Dr. Corné Mulder gaan haal weereens dıe bobbejaan agter dıe bult. Shaun Abrahams ıs ‘n toegewyde wetstoepasser wat van alle moontlıke metodes gebruık maak om meer te leer van dıe psıge van ‘n donker karakter. Waar ıs daar ‘n groter konsentrasıe van dıesulkes as juıs ın Luthulı-huıs?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.