Waarskuwing: Bejaardes maklik teiken van SMS-slenters

selfoon 2

Argieffoto

Die polisie het ʼn beroep op die publiek, veral bejaardes, gedoen om nie te reageer op SMS’e of e-posse wat sê dat hulle geld of pryse in ʼn kompetisie gewen het nie.

“Al hoe meer sake word by die polisie aangemeld deur bejaardes wat deur SMS-slenters gevang is,” het Mirna von Benecke, polisiewoordvoerder, Donderdag aan Maroela Media gesê.

“Ons het verlede week in ʼn kwessie van ʼn uur twee klagtes by die Sinoville-polisie [in die noorde van Pretoria] daaroor ontvang.”

Sy het gesê een van slagoffers, wat uit vrees van viktimisasie anoniem wil bly, het onlangs gereageer op ʼn SMS wat sê hy het iets gewen.

“Hy het daarop gereageer deur ʼn nommer te skakel om die geld te eis, waarna ʼn sekere bedrag aan die ‘maatskappy’ oorhandig moes word om te verseker dat die uitbetaling gemaak kan word. Die man het dit gedoen en nooit die bedrag wat aan hom belowe is ontvang nie.”

Von Benecke het gewaarsku dat verskeie weergawes van die slenter die ronde op SMS’e en e-posse doen onder die voorwendsel van onder meer OMO, Staysoft, die SAID, USA Lotto of plaaslike banke en selfoonmaatskappye.

“Wees veral versigtig vir boodskappe wat lui: ‘Bel hierdie persoon want jy is die gelukkige wenner van ’n promosie of trekking. Gaan na hierdie webtuiste om jou prys op te eis’.”

Sy het mense aangeraai om die volgende vrae te vra as ʼn soortgelyke boodskap ontvang word:

  • Hoe kan ek iets wen as ek nie ingeskryf het vir ʼn kompetisie nie?
  • As ek nie ʼn vorm ingevul het met my besonderhede op nie, hoe kon my naam getrek word in ʼn trekking?
  • Hoekom moet ek geld inbetaal in ʼn rekening as ek dan nou geld gewen het?
  • Hoekom moet ek geld betaal voor ek my prys kan opeis?

Von Benecke waarsku dat mense onder geen omstandighede persoonlike inligting soos bankbesonderhede, identiteitsnommers of huisadresse op webtuistes of aan vreemde persone oor die telefoon moet verskaf nie.

“Daar is ʼn spreekwoord wat lui: As iets te goed is om waar te wees, dan is dit waarskynlik te goed. Mense moet hulle nie deur hierdie slenters laat vang nie,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jakkie Bartleman ·

Nog kenmerke van hierdie slenters is dat die skrywer gewoonlik glad nie kan spel nie en dat die nommer wat geskakel moet word duidelik n gewone MTN of Vodacom nommer is… (Meeste maatskappye, kompetisies of inbelsentrums het unieke nommers wat gewoonlik nie uit die standaard 10 syfers bestaan nie). My vraag is hoekom doen die polisie niks hieraan nie? Hoe moeilik kan dit nou wees om vir hierdie kriminele n lokval te stel waarmee jy hulle maklik sal kan skuldig bevind in die hof? As daar al ooit n saak op n silwer skinkbord aan hulle oorhandig is, is dit hierdie een…

Delia ·

Ag, ek het talle van daai boodkappe gekry…’delete’ dit net. Het ook al een gekry dat ek ‘n groot som geld van ‘n persoon oor see ge-erf het, moet net my bank besonderhede sms, dan kontak hulle my weer.
Hulle sal alles probeer en as jy daarvoor val, sien jy jou alie.

Darty ·

Die ding kom nou al jare aan, kan daar dan nog STEEDS mens wees, jonk OF oud wat hiervoor val???

Fransie ·

Dis hoekom ek GEEN simpatie het met die mense nie. Mens word jaar in en jaar uit gewaarsku teen hierdie slenters …werklik. As jy nie wil hoor nie, moet jy maar voel. Solank daar dom mense is sal die “slimmes” geld maak.

Sarel Strydom ·

Wanneer gaan mense begin luister. Daar was al hoeveel waarskuwings oor hierdie slenter.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.