Waarskuwing oor erge hitte in die Kaap

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

ʼn Hittegolf woed die afgelope week in groot dele van die Wes-Kaap en die weerdiens waarsku die kwik kan Maandag en Dinsdag weer tot bo 40 °C styg. Dit nadat temperature van tussen 45,2 °C en 45,9 °C verlede week aangemeld is.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) waarsku dat dié toestande byna handomkeer gaan verander. En teen Woensdag sal inwoners hul reënbaadjies moet nadertrek weens koue weersomstandighede en reën wat in dié provinsie voorspel word. Dit is weens ʼn kouefront wat die land nader.

Temperature in dele van die binneland en westelike dele van die provinsie het Maandag op plekke 40 °C bereik. Hierdie dele sluit die Swartland, Kaapse metropool, westelike dele van die Kaapse wynlande, die Overberg-distrik en die Klein-Karoo in.

Volgens die voorspellings kan temperature Dinsdag in dieselfde dele van die provinsie tot in die hoë 30’s styg.

Die weerdiens waarsku boonop dat warm temperature tot die ontstaan van wegholveldbrande kan lei.

Volgens Wayne Venter, ʼn weervoorspeller verbonde aan die SAWD, sal temperature in die westelike en suidwestelike gedeeltes van die provinsie teen Woensdag tot in die 20’s daal.

“ʼn Swakkerige kouefront sal teen Woensdag die land nader en teen Donderdag die Wes-Kaap bereik. Die kouefront sal egter verswak soos hy verder land inbeweeg,” sê Venter.

Saam met die koue kan inwoners van die Kaap ook ligte reën verwag. Donderstorms word in dele van die Klein-Karoo, Sentrale Karoo en Tuinroete voorspel.

Koue temperature kan ook Donderdag verwag word, wat dan waarskynlik teen die naweek sal begin normaliseer.

Die weerdiens raai inwoners aan om nie in die hitte aan buitelug-aktiwiteite deel te neem nie. Dit kan tot hitte-uitputting lei.

Maroela Media het vroeër berig ʼn 61-jarige stapper is Sondag per helikopter gered nadat hy op Leeukop in Kaapstad weens hitte-uitputting ineengesak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SlinkseKoljander ·

En die naweek brand ons, ons weer dood met die warm son!

piet ·

Nie so warm vandag in die Kaap nie. Koel, noordelike windjie wat instoot. Ek hoop ons kry daai see-reukie hier in die noordelike voorstede. Daar’s niks so lekker en verfrissend na ‘n paar warm dae nie.

JohanR ·

Hierdie Kaapse weer maak dat jy nie wil he iemand moet aan jou vat, nie en jy wil ook nie aan iemand wat nie want alles is net natterig en sweeterig. Nie romantiese weer nie!

Samuel ·

Dit is beslis nie so warm in die Kaap nie. In die stadskern is dit altyd warmer. Ons moet seker ophou kla, want in die winter is dit weer die koue en reën wat nie na ons smaak is nie.

Maya ·

Ag, ek bid dat ons in die Klein Karoo tog ook van die voorspel de reën in oorvloed mag kry. Die veld is kurkdroog en ons kyk maar net met leepoë na al die plekke rondom ons wat milde reën en meer ontvang.

Karina ·

PE is absoluut kokend. Ek het 34 grade gemeet buite in die koelte. Ek kan net nie genoeg water drink nie. Die hitte maak ‘n mens tam en moeg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.