Waarskuwing oor tenderbedrog

(Argieffoto: Maroela Media)

Die polisie in KwaZulu-Natal het lede van die gemeenskap gewaarsku om nie die slagoffer van tenderbedrog-swendelary te word nie.

Volgens lt.kol. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, het die polisie ’n tendens opgemerk waar bedrieërs met kleinsake-eienaars in verbinding sou tree en hulle dan mislei om te glo dat hulle tenders van staatsdepartemente gekry het. Bedrieglike briefhoofde en e-posadresse word gebruik om hierdie ondernemings te versoek om ’n spesifieke produk of ongewone produk te verskaf.

“Om die produkte te verkry, sou die kleinsake-eienaars op die internet soek en ’n spesifieke verskaffer identifiseer wat ook deel van die bedrogspul is. Nadat die slagoffers ’n bedrag kontant aan die vermeende verskaffer betaal het om die items te bestel, het die slagoffers besef dat hulle bedrieg is,” sê Gwala.

Die bedrogspul het in 2015 begin en ongeveer 68 gevalle is aangemeld.

In ’n saak wat in 2016 in Richardsbaai aangemeld is, het die klaer beweer dat hy gedurende September ’n kwotasie van een van die staatsdepartemente ontvang het. In ’n brief het hulle 100 dyroc-silindergasse aangevra. Nadat die geld aan die verskaffer betaal is, het hy besef dat dit ’n bedrogspul was.

“Hierdie swendelaars teiken desperate kleinsake-eienaars wat nog steeds hul voete in hul bedrywe moet vind.”

Die polisie doen ’n beroep op die publiek om bewus te wees van hierdie tipe swendelary.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Swerwer ·

Presies. Kyk mooi na die epos adres waarvan die tender gestuur is en kyk na die eposadres waarheen jy dit moet terugstuur. As jy mooi kyk na die staats tenders wat jy ontvang, elkeen het sy eie formaat. Dus is dit die veiligste om staatstenders te blok en te merk as scam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.