Waarskuwing teen malaria uitgereik

Argieffoto. Foto: Pixabay.

Die Suid-Afrikaanse regering het Dinsdag ʼn waarskuwing uitgereik nadat ʼn hoë aantal gevalle van malaria in Limpopo en Mpumalanga aangemeld is.

Die regering het in ʼn verklaring hoë-risiko areas uitgewys as die Vhembe- en Mopani-distrik in Limpopo, die gebiede en plase langs die Lephalale-rivier in die Waterbergstreek en Bosbokrand in Mpumalanga.

Die verklaring waarsku ook teen ʼn toename in gevalle van malaria in die Krugerwildtuin en talle private natuur- en wildsreservate in dié omgewing.

Volgens die regering volg dié waarskuwing ná ʼn “besige malariaseisoen in 2017 in die hele Suid-Afrika wat in April en Mei ʼn toppunt bereik en tot in Junie volgehou het”.

“Hoë reënval, humiditeit en veranderende temperature het ideale toestande vir malariamuskiete geskep om uit te broei en bygedra tot ʼn toename in gevalle van malaria. Buitengewone gematigde wintertemperature in malariagebiede het ook bygedra tot ʼn voortdurende muskiet- en parasietontwikkeling wat gelei het tot ʼn vroeë en besige malariaseisoen.”

Popo Maja, hoof van kommunikasie van die departement van gesondheid, sê die sleutelvoorkoming van malaria in hoë risiko areas is steeds om binnenshuise residuele bespuiting (IRS) te gebruik wat spesifiek muskiete doodmaak.

“Die IRS-program is reeds aan die gang gesit in Limpopo en Mpumalanga. Daar word ook beplan om ʼn groter area met die program te bereik as in 2016,” het Maja gesê. “Die vroeë behandeling van malariagevalle is ons sleutelstrategie.”

Maja sê die malaria-medikasie Coartem is “hoogs effektief” in die behandeling van malaria, mits ʼn vroegtydige diagnose gedoen is en dringende behandeling begin is.

Die departement van gesondheid het reisigers en inwoners van Limpopo, Mpumalanga, die noorde van KwaZulu-Natal en lande soos Mosambiek, Botswana en Namibië aangeraai om dringend vir bloedtoetse te gaan indien hulle enige simptome van malaria ervaar.

Maja het gesê ʼn misdiagnose van malaria as verkoue of griep is nié ongewoon nie, maar dat só misdiagnose rampspoedige gevolge kan hê.

Kyk uit vir dié simptome:

  • Griepsimptome wat afwissel met tye waarin jy gesond voel
  • Hoofpyn
  • ’n “Goor” gevoel
  • Moegheid
  • Naarheid
  • Spierpyne
  • Kouekoors
  • Diarree

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lees-ek-reg? ·

Lees ek reg? Geen melding word gemaak om stilstaande water te spuit? Dis wat in apartheid se tyd gebeur het. Ook lank voor die uitbreek van rassisme . . .

Juffie ·

Genadiglik word die Kaap DIT darem gespaar……..ons het nie water nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.