Waarskuwing uitgereik ná rooftog in Rustenburg

(Foto: SA Polisie)

Die polisie in Noordwes het Dinsdag die publiek opnuut gewaarsku om altyd bedag te wees ná jy kontant by ʼn bank getrek het.

Dit volg ná ʼn skietery vanoggend omstreeks 11:45 in die Rustenburgse sakesentrum.

Kapt. Elsabe Augoustides, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê ʼn 37-jarige man is in ʼn ernstige toestand in die hospitaal opgeneem ná hy tydens ʼn gewapende rooftog in die heup geskiet is.

“Die man en sy 42-jarige vriend het na Waterfall-winkelsentrum gegaan om kontant by ʼn bank te onttrek. Toe hulle wegry, het hulle vermoed hulle word agtervolg, maar ná hulle ʼn ruk lank gery het, was hulle onder die indruk dat hulle nie meer agtervolg word nie.”

Die twee mans het daarna by ʼn eetplek stilgehou. “Toe hulle wou uitklim, het twee onbekende mans, albei gewapen, elkeen onderskeidelik by die bestuurder en die passasier se vensters verskyn. Die bestuurder het bly sit, maar die passasier het uitgeklim en hom teen die rowers verset toe hulle die geld geëis het.”

Die bestuurder het ook uitgeklim en die rowers het op hom gevuur. Hy is in die heup getref. “Die verdagtes het met ʼn onbekende bedrag kontant in ʼn wit Kia Rio, met vervalste nommerplate, van die toneel gevlug.”

Augoustides doen ʼn beroep op die publiek dat jy dadelik na die naaste polisiestasie sal ry indien jy enigsins vermoed dat jy agtervolg word. “Dit is belangrik om nie huis toe te ry en moontlik in jou oprit oorval te word nie, selfs nie al is dit helderoordag nie.”

Die polisie versoek ook dat die publiek eerder van ʼn elektroniese bankoordrag gebruik sal maak, eerder as om kontant te onttrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Annelize ·

Jy mors in elkgeval jou tyd om hulp van watter aard ook al by die Polisiestasie in Rustenburg te gaan soek.

Snowball ·

Winkelsentrums, banke en restaurante wemel van ‘spotters’. Hulle verskaf inligting aan die lot wat buite wag en jou agtervolg sodat hulle kan toeslaan. Kyk maar rond as jy weer in ‘n ‘mall’ is, jy sien soms die ‘spotters’ rondhang naby jou; hulle mis niks, van jou selfoon waar jy sit by die koffiewinkel, jou horlosie of juwele, tot by jou ontwerpershandsak word waargeneem en daarvolgens word jy geteiken. Wees so onopsigtelik as moontlik sodat jy nie geteiken word nie. Dit klink vreeslik paranoïes, totdat dit met jou gebeur. Besef net, ons leef in ‘n misdaadhool.

Gert ·

Dis weer daai tyd van die jaar en die kriminele wil ook Kersfees hou. Hulle weet mense kry nou bonuse so wees asb wakker en veilig

Frank John ·

Ons land kort werks geleenthede. As die mense werk het het hul geld en kos en te min tyd om nog roof togte aan te pak.

Maryna ·

Niks gaan hierdie boosdoeners keer as hulle jou wil roof nie… Wat gaan dit anders maak by die poliesstasie? Sodra jy daar uitklim word jy oorval, die manne sit binne en weet van niks.

Shakespeare ·

“Hugo, bel die Polisie” …….. watse Polisie my vrou ?

Annelize ·

Rustenburg is besig om in ‘n absolute hool te ontaard, indien hy nie reeds is nie. Die dorp homself is in ‘n totale staat van verval, geen wet en orde word hier toegepas nie, en misdaad het reeds lankal handuit geruk.

Janee ·

Genugtig!!! En by die stasie word jy aangerand en moontlik toegesluit vir n week? Nee dankie!!! Hulle kan nie meer vertrou word.

Misky ·

Ons het mos nou al gesien wat gebeur by polisie stasies as jy soontoe ry en vir hulp gaan vra. Nee wat dankie, sal nie daai raad volg nie

Chantal ·

Ag asseblief by daardie polisiestasie staan hul en kyk net toe, bygese as daar n siel is, daar is geensins ‘n reaksie eers nie so wat is dan nou die punt om soontoe te ry?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.