Waarskuwing vir brande in dié Kaapse provinsies

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Brian Fegter/Unsplash)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Donderdag gewaarsku dat gebiede in die Wes- en Noord-Kaap gevaar loop vir veldbrande.

Die Hantam-munisipaliteit in die Noord-Kaap en die Sentraal-Karoo-distrik, asook die Kannaland-munisipaliteit in die Wes-Kaap is gebiede wat uitgesonder is, en veral plekke soos Ladismith en gebiede naby Prieska en Calvinia.

Volgens die weerdiens is die brandgevaarindeks in dié gebiede meer as 75, wat beteken daar is ʼn beduidende risiko vir ernstige en verwoestende veldbrande.

Windspoed, temperatuur en humiditeit is alles faktore wat bydra tot dié indeks.

“Onder hierdie toestande kan brande vinnig ontwikkel en versprei, wat skade aan eiendom en moontlike verlies van mense- en/of dierelewe tot gevolg kan hê,” het die weerdiens gewaarsku.

Hoewel inwoners van hierdie munisipaliteite veral vandag op hul hoede moet wees vir wegholbrande, meen die weerdiens die gevaar sal reeds môre (Vrydag) aansienlik afneem. Die waarskuwing sal eindelik teen die naweek opgehef word namate toestande verbeter.

Dele van die Noord-Kaap kan verder hemelhoë temperature verwag met sekere gebiede wat ʼn maksimum temperatuur van 35 °C kan bereik.

Hoewel gebiede langs die Weskus matige temperature kan verwag, sal daar na verwagting verswelgend hoë temperature in die rigting van die binneland wees.

In Beaufort-Wes, Prins Albert en Oudtshoorn sal onderskeidelik minimum temperature van 10 °C, 14 °C en 8 °C voorkom, terwyl die gebiede maksimum temperature van 31 °C, 32 °C en 34 °C kan verwag.

Hier is aanduiding van die gebiede wat die risiko loop vir ernstige veldbrande:

Grafika: Suid-Afrikaanse Weerdiens

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marius ·

Kanse is goed vir ‘n reuse veldbrand. Die mense maak mos enige plek vuur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.