Waarskuwing vir erge storms uitgereik

Grafika: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens

Grafika: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Donderdag ʼn waarskuwing uitgereik vir erge donderstorms oor groot dele van die land wat moontlik met hael en stormsterk winde gepaard kan gaan.

Die waarskuwing is uitgereik vir die hele Gauteng, noordelike dele van die Vrystaat, groot dele van Noordwes en die grootste gedeeltes van KwaZulu-Natal, en sal na verwagting tot middernag duur. Volgens African News Agency het die weerdiens reeds berigte ontvang van swaar reën en moontlike vloede in Vanderbijlpark in die suide van Johannesburg en omliggende laagliggende gebiede.

Minstens ses mense is dood en minstens twee nog vermis nadat swaar reën vroeër vandeesmaand kitsvloede op verskeie plekke in Gauteng veroorsaak het. Honderde voertuie is beskadig, erge skade is aan brûe en paaie aangerig en mure het omgeval.

ʼn Rampbestuursentrum is in Johannesburg op die been gebring om die omvang van die skade te bepaal, opruimingswerk te doen en inwoners in nood by te staan.

Intussen gaan die soektog steeds voort na Madelein Murray (40), ʼn sakevrou en ma van Pretoria, wie se motor op die laagwaterbrug in Flowerstraat, Capital Park, deur vloedwater meegesleur is. Maroela Media het vroeër berig dat die soektog ná twee weke afgeskaal is. Die liggaam van ʼn kind, vermoedelik dié van die driejarige Everite Chauke wat byna twee weke gelede deur vloedwater in die Jukskeirivier in Alexandra meegesleur is, is Dinsdag opgespoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kathy ·

Daar was berig van n 3 jarige seuntjie wat ook vermis was. Is hy al gevind.

Ahooy ·

Die weerburo is die enigste plek waar jy kan werk en elke dag n fout maak sonder om jou werk te verloor. Statistieke het bewys hulle is 80% van die tyd verkeerd. Ek kyk sommer in die oggend by die venster uit en sien hoe die weer lyk, as om my te steur aan hulle “voorspellings”.

Pendoring ·

Eintlik ‘n onverantwoordelike houding aangesien die weer letterlik binne ‘n uur kan verander.

Anne ·

Die weerburo is daar om mense happy te hou, en tog kla mens! Ek is dankbaar vir die reën EN die weerburo se moeite!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.