Waarskuwing vir hewige donderstorms uitgereik

Van die haelkorrels wat Sondag vermoedlik in Hoedspruit geval het. Foto: Twitter

Van die haelkorrels wat Sondag vermoedlik in Hoedspruit geval het. Foto: Twitter

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het vir Maandagmiddag ʼn waarskuwing uitgereik vir hewige donderstorms in vier van die land se provinsies met ʼn voorspelling van stormsterkte wind en hael.

Jan Vermaak, weervoorspeller by die weerdiens, het aan Maroela Media gesê hewige donderstorms kan in Gauteng, die oostelike gedeeltes van Noordwes, die suidwestelike gedeeltes van Limpopo en die weste van Mpumalanga verwag word.

“Hewige storms met erge hael het reeds Vereeniging en Hammanskraal in Gauteng getref, asook Witbank en Middelburg in Mpumalanga,” het hy gesê.

Hy het gesê die donderstorms is nie ongewoon vir dié tyd van die jaar nie.

“November is gewoonlik die maand met die hoogste voorkoms van donderstorms wat met stormsterkte wind en hael gepaard kan gaan.”

Vermaak het gesê vir Dinsdag word enkele tot verspreide donderbuie oor die sentrale, noordelike en oostelike gedeeltes van die land verwag.

Daar is ʼn voorspelling, maar nog nie ʼn waarskuwing nie, gemaak vir hewige donderstorms in die weste van Noordwes, die sentrale en westelike gedeeltes van die Vrystaat en die noordoostelike dele van die Noord-Kaap.

Hoedspruit in Limpopo het Sondag onder ʼn hewige storm deurgeloop en verskeie mense het foto’s op sosiale media gedeel van haelkorrels wat so groot soos tennisballe is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Christo ·

Julle is geseen, net stof weereens in Welkom. So sleg, alles doodgebrand in die son.

Theresa ·

Sekerlik reg om die Heer te prys vir die reën! Ligte hael voed ook die plante op ‘n sekere manier. Maar, dis vreesaanjaend om te ry op ‘n snelweg en skielik niks te sien nie. Nie eers of jy op die regte kant van die pad is nie! Ook om jou kar se vensters te sien spat onder abnormale groot hael. Om na die storm te sien karre het lê op hul dak – seker uitgeswaai vir iemand of iets terwyl die pad byster was? Ander met “bonnet” in water, want wou seker probeer wegkom?
Ons het reën bitter nodig. Ongelukkig is November ook die haelmaand.
Ek dank die Heer dat my kind gisteraand ongedeerd uit ‘n vreeslike storm gistermiddag kon tuis kom – al was dit eers in die nagtelike ure.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.