Waarskuwing vir nóg stormweer uitgereik

Foto: Pixabay

Die Suid-Afrikaanse weerdiens het Donderdag gewaarsku dat swaar storms met die risiko van swaar neerslae en stormwind moontlik Donderdagaand oor die platorand en Laeveldgebied van Mpumalanga kan uitsak.

Volgens Ezekiel Sebego, ʼn woordvoerder vir die weerdiens, kan groot dele van Gauteng, die Hoëveldgebied van Mpumalanga en ook die suidwestelike en suidelike dele van Limpopo Vrydag soortgelyke weerstoestande verwag.

“In hierdie stadium is die grootste risiko stormwind en swaar neerslae wat kan lei tot oorstromings in stedelike gebiede. Hoewel hael in sommige van dié gebiede kan voorkom, sal dit na alle waarskynlikheid meestal gering wees,” lui die weerdiens se verklaring.

Sebego sê die oostelike gedeeltes van die land kan van Vrydag ʼn kouefront verwag wat onmiddellik gevolg sal word deur hoogdruk toestande.

Ligte sneeu word Donderdagaand vir die oostelike dele van die Wes-Kaap en Oos-Kaap verwag. Die sneeu sal Vrydag versprei na Lesotho en na die suidelike Drakensberge.

As gevolg van dié sneeutoestande kan “beduidend koeler weerstoestande” Vrydag in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal verwag word. Hierdie toestande sal volgens die weerdiens oor die naweek na die noordoostelike provinsies (insluitende Mpumalanga, Gauteng, Limpopo en Noordwes) versprei.

“Hoewel koue weerstoestande dié naweek oor groot dele van die land verwag word, sal daar na alle waarskynlikheid ʼn vinnige herstel in dagtemperature wees wat teen Maandag gestabiliseer het.”

Vir meer inligting besoek die Suid-Afrikaanse weerdiens se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rommel ·

Oorstromings gebeur ook agv rommel en boomtakke wat afvoerpype verstop. Hierdie afvoerpype word ook nie jaarliks skoongemaak voor die aanvang van die reënseisoen.
Beplanning deur na kontoere te kyk op ‘n papier (plan) werk ook nie. Daar moet fisies gedurende stortreën ondersoek gedoen word maar gewoonlik is dit na-ure en . . .

Karel ·

Eish, dit beteken werk wat inbraak maak op mense se tee drink en na supermarkte ry in munisipale voertuie gedurende werksure. ??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.