Waarskuwings ná reeks verdrinkings langs kus

(Foto: NSRI)

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het Maandag swemmers gemaan om waaksaam te wees in en om groot massas water nadat talle mense reeds die afgelope paar weke oor die hele Suid-Afrika verdrink het.

Ondanks die reeks verdrinkings het lewensredders oor die land wel daarin geslaag om honderde mense van ʼn moontlike waterdood te red.

Die afgelope naweek het lewensredders in Kaapstad twee mense uit die water op Tableview-strand gered net voordat hulle deur ʼn sterk stroom meegesleur is.

Lewensredders het om 19:33 by dieselfde strand saam met lede van NSRI Melkbosstrand en polisiebeamptes gewerk om vier mense in nood te red.

Die vier mense was glo aan die verre noordekant van die strand in die brandersone vasgekeer. Die swemmers is betyds deur lewensredders gered.

Volgens die NSRI is een van die swemmers op die toneel deur paramedici behandel.

In ʼn afsonderlike voorval in Mosselbaai het ʼn lid van die NSRI, wat van diens af was, en sy seun in ʼn private boot ʼn vlieërplankryer gered wat op pad diepsee toe was.

Die pa en seun was reeds in die gebied toe hulp ontbied is. Die plankryer is kort daarna deur die NSRI-lid opgelaai en na droë land geneem.

Die Stad Kaapstad het intussen gesê lewensredders het altesaam 134 mense die afgelope naweek op verskeie strande aan die kus van dié stad gered.

“Hoewel talle mense gered is, het drie mense steeds verdrink,” sê Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid.

Die noodlottige verdrinkings het glo buite die aangewese swemgebiede by onbewaakte strande plaasgevind of buite die ure wanneer lewensredders aan diens was.

Die NSRI het lede van die publiek gevra om op hul hoede te wees om en in die water.

“Swem slegs by strande waar lewensredders is en slegs wanneer hierdie redders aan diens is.

“Ouers moet ook verseker dat ʼn verantwoordelike volwassene wat kan swem deurlopend oor kinders waak wat in die water baljaar.”

Noue ontkomings

ʼn Aantal mense het die afgelope naweek flink gedink toe hulle in afsonderlike voorvalle amper deur die seegolwe ingesluk is.

Volgens die NSRI het twee mans vroeg die oggend op ʼn visvangski naby Beachbums, Tongaat, uitgegaan om vis te vang.

Die twee mans het glo ʼn hamerkophaai aan hul vislyn gehad toe ʼn groter haai verskyn en aan die ski gestamp en gebyt het. Die ski het toe vinnig begin sink.

Die mans het noodgedwonge na ʼn nabygeleë ski geswem waar noodfakkels afgevuur is.

Teen die tyd dat die NSRI vanuit Ballito op die toneel aangekom het, was die mans reeds veilig aan land en ongedeerd.

“Die nasionale haaivoorvalgroep sal die bytmerke op die visvangski ondersoek om die grootte en spesie van die betrokke haai te bepaal,” sê die NSRI.

In ʼn afsonderlike voorval het ʼn staande roeiplankryer self na die kus van Scarborough in Kommetjie geswem toe hy Saterdag om 17:51 in onstuimige waters vasgevang was.

Dieselfde aand, om 19:23, het ʼn foelie-seilplankryer byna ʼn kilometer van die Misty Cliffs-strand van sy plank afgeval.

Hy het daarin geslaag om sonder voorval na veiligheid te swem, nadat hy sy foelievlieër agtergelaat het.

Die NSRI se seereddingspan het die foelieseil teruggekry en dit aan die man terugbesorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marius ·

Mense moet die see met groot respek benader. Hy is onvoorspelbaar en baie gevaarlik.

Boeing ·

My seun het ook by Mosselbaai n meisie uitgebring wat op een van die staanplanke die baai ingewaai is. Hy het haar aan sy kajak laat vashou terwyl hy na veiligheid geroei het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.