Waarskuwings oor donderstorms, hael uitgereik

Die silhoeët van ʼn skuur tydens ʼn donderstorm. (Foto: Charlie Riedel, AP)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Saterdagmiddag gewaarsku oor die moontlikheid van donderstorms in KwaZulu-Natal, die Noord- en Wes-Kaap. Hierdie donderstorms kan moontlik kitsvloede, hael en swaar donderweer tot gevolg hê.

Die weerdiens voorsien dat hewige donderstorms kan ontwikkel oor die binneland van die Namakwa in die Noord-Kaap, asook die Sentraal-Karoo in die Wes-Kaap en het daarom ʼn geel vlak 2-waarskuwing vir dié gebied uitgereik. “Dit kan veroorsaak dat baie reën (10 tot 20 mm) in ʼn kort tyd val, wat tot kitsvloede kan lei. Groot haelkorrels van 2 tot 3 cm in deursnee, asook sterk rukwinde van 50 tot 70 km/h word ook verwag,” sê die weerdiens in sy verklaring. Die waarskuwing geld van 12:00 tot 20:00 Saterdag.

In KwaZulu-Natal sê die weerdiens hy verwag donderstorms in die noordwestelike dele, wat waarskynlik gepaard sal gaan met verwoestende winde, uitermatige donderweer en swaar reënneerslae.

“Plaaslike oorstromings en skade aan infrastruktuur is moontlik.” Die weerdiens het daarom ʼn geel vlak 2-waarskuwing uitgereik, wat van 14:00 tot 23:00 Saterdag geld. Dié provinsie sukkel nog om op die been te kom ná verwoestende vloede in April vanjaar, wat tot groot skade aan infrastruktuur asook lewensverlies gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.