Waarskuwings vir erge donderstorms, vloede uitgereik

Vloede Maandag in Durban. Foto: SAPD

Vloede Maandag in Durban. Foto: SAPD

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het talle waarskuwings uitgereik waaronder erge donderstorms met sterk winde, swaar reënval en hael oor groot dele van die land.

ʼn Waarskuwing vir swaar reën is Dinsdag uitgereik vir die hele Gauteng, die oostelike dele van die Vrystaat, suidelike dele van KwaZulu-Natal, suidoostelike dele van die Oos-Kaap en die suidelike en suidwestelike dele van die Wes-Kaap.

Erge donderstorms kan in Noordwes oor Koster en Ventersdorp verwag word, waarna die stelsel in ʼn suidoostelike rigting kan beweeg. Die waarskuwing gaan gepaard met swaar reën in sekere dele van die provinsie wat tot Donderdagoggend kan voortduur.

Die weerdiens het ook gewaarsku oor die moontlikheid van kitsvloede in Pretoria. In KwaZulu-Natal is ʼn waarskuwing uitgereik vir vloede in en om iLembe, eThekwini, Ugu, Sisonke/Harry Gwala, uMgungundlovu, uThungulu, uThukela en Amajuba. In die Oos-Kaap kan vloede langs die Wildekus en oostelike binneland verwag word. In die Wes-Kaap kan vloede in die Eden-distrik, Overberg-distrik, Kaapstad, Kaapse Wynland en suidelike gedeeltes van die Weskus voorkom.

Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, het gesê die nooddienste in die stad is op ʼn hoë gereedheidsgrondslag geplaas. Hy het ʼn beroep op inwoners en besoekers gedoen om te alle tye versigtig te wees. Hy het motoriste gewaarsku om geen pad oor te steek wat in vloed is nie.

Swaar sneeu, wat ontwrigting kan veroorsaak, kan voorkom in die noordoostelike dele van die Oos-Kaap, suidwestelike dele van KwaZulu-Natal en suidoostelike dele van die Oos-Kaap.

Wayne Venter, weervoorspeller, het aan Maroela Media verduidelik die bibberweer kan aan ʼn afsnylaagweerstelsel toegeskryf word. ʼn Afsnylaag is ʼn sterk laagdrukstelsel, wat tussen twee hoogdrukstelsels afgeknyp en aanhoudend met vogtige lug aangejaag word.

Die stelsel begin teen Woensdag uit die land te beweeg en afgesien van die Wes-Kaap, sal temperature Donderdag eers weer begin styg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Maggie van Zyl ·

Jammer vir die betrokke persone se skade, maar ons dank die Here vir die goeie reën. Selfs in plekke soos Senekal in die Vrystaat, waar daar al vir bykans 2 maande nie meer water is nie, (letterlik droë krane.. ) is hulle gister geseën , met net oor ‘n 100mm Gods-water.

Vra net ·

Wanneer is hierdie veronderstel om te gebeur? Wolke is maar lig hier in Pta Oos……..

Elize ·

Ek kla glad nie oor die bibberende weer en die reen nie. Ons plase is droog, die peste en plae is hoog en net die koue kan die weer vir ons herstel….so bring maar nog koue. Nooit sal ek ooit weer oor die winter kla nie, die somers is darem net te versengend na my smaak.

Jan maak n Plan ·

Is ssos n klein seuntjie op Oukersdag, kan nie wag vir die heerlikke sommer reen nie. Daars duidelik n groot Heer besig met baie goeie dinge. Ons harte loop oor van dankbaarheid.

Niel ·

Die mens is maar ‘n snaakse ding. Hier in Engeland kla almal ook alewig oor hoe misluk en koud die winters is, maar wanneer Engeland sy week se somerweer kry, dan kla almal weer oor dit te warm is.
Terug na SA, ek wens net op die verskillende nuus webwerwe onder die weer skakel daar meer inligting weergegee kan word rakende die stand van die damme in SA. Is vir my altyd interessant om te hoor hoe die damme vol word so oor die wintermaande.

Daleen ·

Ek wonder ook wanneer gaan die donderstorms & vloede in Pta kom, dis ok gladnie so koud soos die weervoorspelling se nie, plek-plek is die wolke al weg & die sonnetjie kom deur, wonder maar net!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.