Waarskynlikheid van beurtkrag nou weer groter

(Argieffoto: Eskom/Twitter)

Skaars 24 uur nadat Eskom Suid-Afrikaners gerusgestel het dat beurtkrag waarskynlik nié die naweek ingestel gaan word nie, het die kragvoorsiener laat weet daar is ʼn groot kans vir beurtkrag Sondag.

“Die waarskynlikheid dat beurtkrag Sondag geïmplementeer sal moet word, is redelik goed; weens ʼn toename in onbeplande onderbreking en die identifisering van verdere risiko’s in die stelsel,” sê Eskom in ʼn verklaring.

Die kragvoorsiener het Saterdagaand gesê “harde werk en toegewydheid” het gesorg dat kragopwekkers wat buite werking was, vinnig weer aan die gang gekry kon word. “Daarom is Eskom voorlopig nie van plan om dié naweek beurtkrag toe te pas nie,” het Maroela Media vroeër berig. Eskom het egter gewaarsku dat enige verandering in die stelsel sou kon lei tot die implementering van beurtkrag op kort kennisgewing.

“Die stelsel bly onvoorspelbaar en kwesbaar. Ons is tans besig om noodreserwes aan te vul, maar daar is ʼn groot waarskynlikheid dat beurtkrag Sondag ingestel sal word, indien daar enige verandering in die opwekkingstelsel is,” het Eskom Sondag gesê.

Teen Sondag 11:30 het onbeplande onderbrekings op meer as 12 000 MW gestaan, teenoor die 11 000 MW Vrydag en Saterdag.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.