Wadeville-brand kan dalk dae lank woed

Argieffoto (pixabay.com)

ʼn Brand wat by ʼn herwinningsmaatskappy in Wadeville, Ekurhuleni, uitgebreek het, sal waarskynlik ʼn paar dae lank word.

William Ntladi, woordvoerder van die rampbestuureenheid, het gesê hoewel Ekurhuleni-brandbestryders steeds poog om die brand te blus, sal dié poging na verwagting ʼn paar dae lank duur weens die vlambare materiaal op die perseel.

Brandbestryders van die Wadeville-brandweer word bygestaan deur spanne van Alberton, Hlahatsi en Boksburg. “Hulle het deur die nag onder uiters gevaarlike toestande onverpoosd gewerk om die brand te probeer blus.”

Die brandweer is Dinsdagaand omstreeks 21:20 ontbied en die eerste brandweerwa het ʼn paar minute later by die toneel aangekom.

“Saamgeperste papiermateriaal en -bale is gestapel onder lewendige hoëspanning- elektriese kabels in Commercialstraat in die Wadeville-nywerheidsgebied in Germiston. ʼn Groot deel van die gebou is in vlamme gehul. Die vuur stel die elektriese kabels ook aan intense hitte bloot en dit kan moontlik breek,” het Ntladi gesê.

Eskom-elektrisiëns is ontbied om die kragtoevoer by die maste wat 88Kv oordra te isoleer.

“Daar is ook ʼn petroltenk (kapasiteit onbekend) op die grondvloer waar die brand woed. Dié soort petroltenks kan druk opbou en kan moontlik ontplof. Brandbestryders is deurgaans besig om die tenks met water af te koel.”

Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie en die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Neil ·

Hermanus se herwinningaanleg is ook uitgebrand. Brandstigting met die chaos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.