Wag beseer, verdagtes vas ná mislukte roof

Argieffoto: Kent Williamson

ʼn Veiligheidswag is Donderdag tydens ʼn mislukte rooftog in Dobsonville, Soweto geskiet.

Ineke van Huyssteen, woordvoerder van ER24, het gesê die veiligheidswag is in die arm geskiet. “Met paramedici se aankoms op die toneel het hulle die wag gevind waar hy reeds behandeling ontvang het in ʼn dokterspreekkamer naby die toneel.”

Volgens Van Huyssteen het ER24 die wag na ʼn hospitaal vervoer vir verdere behandeling. Paramedici van ER24 was kort ná 12:00 op die toneel.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het intussen aan Jacaranda FM gesê ses verdagtes is in hegtenis geneem kort nadat hulle ʼn kitsbank met plofstof opgeblaas het.

Volgens Naidoo het die verdagtes wagte van G4S aangeval terwyl hulle geld in die kitsbank gelaai het. Hy het ook gesê geen kontant is tydens die voorval gesteel nie. Naidoo kon nie Vrydagoggend bereik word vir verdere kommentaar nie.

Die voorval het gevolg kort nadat ʼn vermeende transitorower doodgeskiet is toe verdagtes ʼn geldwa in Boksburg aan die Oos-Rand probeer beroof het. ʼn Onbekende aantal verdagtes het omstreeks 06:00 in minstens drie voertuie op die geldwa in Atlasweg naby die N12-hoofweg toegeslaan.

Die verdagtes het probeer om die geldwa te beroof. ʼn Skietery het tussen die rowers en die veiligheidswagte ontstaan en een van die rowers is noodlottig gewond.

Die verdagtes het glo met leë hande van die toneel gevlug. Verskeie eenhede is na die toneel ontplooi en ʼn volskaalse soektog na die ander verdagtes is van stapel gestuur.

Die polisie het beslag gelê op ʼn AK47-aanvalsgeweer wat op die toneel gevind is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.