Wag by fotografiewinkel doodgeskiet

Argieffoto.

’n Sekerheidswag is Saterdag gedurende ’n gewapende roof by die bekende kamera-en-fotografiewinkel, Orms, in die middestad van Kaapstad doodgeskiet.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, sê aan Maroela Media vier gewapende mans het omstreeks 11:49 by ’n winkel in Roelandstraat ingestorm en die winkelpersoneel aangesê om plat op die vloer te lê.

Die mans het die winkel van toerusting beroof waarna hulle ’n 55-jarige sekerheidswag doodgeskiet het. Die verdagtes het met die sekerheidswag se wapen op die vlug geslaan.

Die sekerheidswag het vir die veiligheidsmaatskappy City Bowl Armed Response gewerk.

Jacques Weber, DA-wyksraadslid, het sedertdien sy medelye met die sekerheidswag se familie en vriende betuig. “Die beampte het sy lewe in gevaar geplaas om ons te beskerm.”

Die sekerheidswag se identiteit is nie in dié stadium bekend nie.

Luidens inligting is dit die derde gewapende roof in ’n kwessie van ’n jaar in dié spesifieke buurt.

Die polisie ondersoek ’n saak van moord en sakeroof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

FM ·

Met elke gruwelike insident spreek ons kommer uit en sê dis nou genoeg. Met elke gruwelike insident betuig die politici hul medelye en dis waar dit stop. Dit hou net aan en aan en aan. Sien niemand raak dat dit lankal tyd verstreke is nie?????

Genis ·

Ek dink een die windsgewende besighede deesdae moet die begrafnis ondernemers wees..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.