Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê paramedici is Dinsdagoggend omstreeks 6:24 na die toneel ontbied. “Met paramedici se aankoms op die toneel is ʼn veiligheidswag dood aangetref in sy motor.”
Volgens Reaction Unit South Africa is hulle omstreeks 07:09 na die Tongaat-tolplaza ontbied. “Met ons aankoms was daar talle polisievoertuie en ambulanse op die toneel en is ʼn man langs die pad gevind. Hy is in die kop en regterarm geskiet.”
Die gewonde man was glo een van vyf verdagtes wat die sakeperseel beroof het. ʼn Skietgeveg het tussen die verdagtes en veiligheidswagte uitgebreek waarna die verdagtes in ʼn Mercedes Benz van die toneel gevlug het. Die verdagtes het by die tolhek stilgehou toe hul motor onklaar geraak het. “Die verdagtes het te voet gevlug in ʼn nabygeleë suikerrietplantasie in, maar die gewonde verdagte het langs die pad inmekaargesak.”
Volgens Rusa is nog ʼn veiligheidswag in die rooftog gewond en is hy na ʼn hospitaal geneem vir behandeling.
Die polisie het ʼn grootskaalse soektog na die ander verdagtes van stapel gestuur.